Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) nooi gesinne en families uit na ‘n heerlike Paasfees-pretdag komende Saterdag (4 April) op die pragtige Paarlberg wat tans in die allermooiste herfskleure getooi is.
Terwyl ouers en vriende die unieke atmosfeer, uitstallings en uitsigte by die monument inasem, kan die jonges hope plesier te wagte wees danksy verskeie speletjies, kreatiewe aktiwiteite en gratis bederfpakkies. Boonop is daar groot inheemse tuine en sagte grasperke met speelparke wat die laaste kinderenergie sal absorbeer.
Gaste is welkom om hul eie spys en drank (geen glas/vure toegelaat) te bring. Gratis, veilige parkering is beskikbaar. Die geleentheid duur van 09:00 tot 13:00, maar die terrein bly oop tot 17:00.
Toegang beloop R40 per volwassene en R60 per kind.
Voorafbespreking via Gershwyn Fredericks by 021 863 0543 en 076 017 6026 (WA) of opvoedkundige@taalmuseum.co.za is noodsaaklik sodat die ATM vir die spesifieke getal kinders en geskenke voorsiening kan maak. Betaal daarna op die dag by die hek.




