Swart katte word dikwels weens bygeloof mishandel. Foto: Unsplash

Katte het die reputasie om onafhanklike, geheimsinnige wesens te wees wat graag hul eie pad stap, maar dié beeld word dikwels gevorm deur mites en wanopvattings. Dit veroorsaak dat hul gedrag verkeerd vertolk en hul emosionele behoeftes geïgnoreer word.

Vier kat-mites met ernstige gevolge vir katte se gedrag én hul verhouding met mense is:

Mite 1. “Katte is onafhanklike diere wat nie veel liefde of aandag benodig nie.” Die idee dat katte nie aan mense geheg raak nie en sonder emosionele kontak floreer, is uiteenlopend.

Feit: Hoewel sommige katte meer onafhanklik as honde is, vorm hulle sterk bande met mense. Katte soek dikwels aandag, speelsheid en liefde – maar net op hul eie voorwaardes.

Gevolg: Hierdie mite lei daartoe dat mense katte emosioneel verwaarloos – veral in huishoudings waar interaksie minimaal is.

Die kat kan angs, depressie of gedragsprobleme soos oormatige miaau of aggressie ontwikkel. Buiten emosionele verwaarlosing, kan ‘n gebrek aan stimulering ook fisieke gevolge hê.

Verveelde katte eet dikwels te veel, raak oorgewig of begin hulself oormatig versorg – tot op die punt van haarverlies. Katte het plekke nodig om te klim, te verken, te skuil en te speel – en die sielkundige veiligheid om hul eienaar as bondgenoot te sien.

‘n Kat wat genoeg liefde en aandag kry, is meer geneig om sosiale gedrag te toon soos spin, kopstootjies en rustige liggaams- taal. Die positiewe gedrag versterk die mens-dier-verhouding en bou vertroue.

Mite 2. “ ’n Kat sproei of piepie buite die katbak uit stoutigheid.” Ongewenste urinering word dikwels as ‘n vorm van wraaksug beskou.

Feit: Sproei of buite-die-bak-urinering is gewoonlik ‘n reaksie op stres, siekte of onvanpaste katbaktoestande (soos ‘n vuil bak of verkeerde ligging). Dit is nie “stoutigheid” nie.

Gevolg: As die probleem gestraf word, skep dit vrees en wantroue. Die gedrag vererger dikwels en die verhouding tussen kat en mens ly skade.

Baie gedragsprobleme is eintlik noodkrete: ‘n Kat wat sy gemors buite die bak los, vra nie straf nie – hy vra hulp. Dit is belangrik om fisieke oorsake soos urieninfeksies, nierprobleme of angs uit te sluit. Soms is die oplossing so eenvoudig soos ‘n ekstra katbak of ‘n feromoonverspreider om spanning te verminder.

Deur waarneming en geduld, eerder as straf, kan die eienaar die oorsaak identifiseer en die kat se vertroue behou.

Mite 3. “Swart katte bring ongeluk.” Hierdie ou bygeloof leef steeds in sekere gemeenskappe voort en word dikwels aan kinders oorgedra.

Feit: Swart katte is net so liefdevol, speels en uniek soos enige ander kleur. Daar bestaan geen wetenskaplike gronde vir hierdie mite nie.

Gevolg: Dié mite het al daartoe gelei dat swart katte by die- reskuilings dikwels laaste aangeneem word, of selfs mishandel word. Sommige skuilings in Suid-Afrika en elders stel selfs ‘n verbod op aanneming van swart katte gedurende Halloween uit vrees vir mishandeling. Moedig kinders van kleins af aan om alle diere gelyk te waardeer. ‘n Swart kat kan net so ‘n lojale metgesel wees as enige ander.

Mite 4. “Katte hoef nie gesteriliseer te word nie – hulle sal self regkom.” Baie glo sterilisasie is onnodig, of dat ‘n kat een keer moet teel voordat sy “volwasse” is.

Feit: Sterilisering voorkom nie net ongewenste kleintjies nie, maar verminder ook die risiko van sekere gesondheidstoestande en gedragsprobleme soos roekelose rondloop of sproei.

Gevolg: Hierdie mite dra by tot kat-oorbevolking in gemeenskappe, en lei daartoe dat honderde ongewenste katjies jaarliks aan hul lot oorgelaat word.

Ongesteriliseerde katte het ‘n hoër risiko vir infeksies van die voortplantingstelsel, baarmoederkanker en katvigs (Feline Aids), wat deur byt tydens gevegte versprei word. Hulle is ook geneig om hul gebied aggressief te verdedig en kan ver van die huis af ronddwaal. Vroeë sterilisasie (teen 4-6 maande) word deur veeartse aanbeveel en voorkom toekomstige probleme.

Gesteriliseerde katte is ook geneig om rustiger en meer huisvas te wees, wat hul veiligheid verhoog en hul lewensgehalte verbeter. Dit verminder ook die las op diereskuilings, wat reeds oorvol is.

Om katte reg te verstaan, vra van ons om ou mites af te leer en met oop oë na hul unieke kommunikasie en behoeftes te kyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article