Worcester Standard & Breederivier Gazette

Verkeer herlei na reuse-sinkgat in Robertson ontstaan

Robertson sinkgat
‘n Groot sinkgat het in Voortrekkerweg in Robertson ontstaan.

Die groot sinkgat wat verlede week in Voortrekkerweg in Robertson ontstaan het, is moontlik deur rioolpyplyne veroorsaak.

Die verkeer is verlede week herlei nadat die pad meegegee het en ‘n sinkgat in die aansluiting van Voortrekker- en Reitzstrate sigbaar was.

Die sinkgat se afmetings is na raming 3,7 m by 4,2 m by 2,4 m, met ‘n volume van 37,3 m³.

Volgens Daniël Lubbe, die munisipale bestuurder van die Langeberg-munisipaliteit, loop twee rioolpyplyne van verskillende groottes in Ashton se rigting onderdeur hierdie kruising.

“Ons het die afgelope paar maande gereeld blokkasies in een van hierdie pype gehad, wat ons herhaaldelik moes ontblok deur ‘n Jetvac-hoëdrukspuit te gebruik. Pogings om die pyp met robot- kameras te inspekteer, was onsuksesvol as gevolg van die hoë vloei en opdrifsels in die pyp wat toegang belemmer het. Hierdie herhaaldelike verstoppings en hoëdrukspuit, asook lekkasies in die pyp, kon moontlik die sand wat om die pype was, laat wegspoel het. Die presiese oorsaak van die sinkgat sal bevestig word as deel van die herstelwerk en ondersoek waarmee ons nou besig is.”

Voortrekkerweg is ‘n provinsiale pad wat deel vorm van die R60. Alle herstelwerk op hierdie pad word in samewerking met die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur gedoen.

Volgens die munisipaliteit is ‘n kontrakteur aangestel om nood-herstelwerk te doen. ‘n Gedetailleerde ondersoek word gedoen om die presiese omvang van die werk wat nodig is, te bepaal. “Ons kan nie in hierdie stadium sê hoe lank die herstelwerk sal neem nie. Sodra ons meer inligting het, sal ons dit beskikbaar maak,” het Lubbe gesê.

Die herstelwerk sal volgens SANS – provinsiale en munisipale standaarde – gedoen word, het hy gesê.

‘n Ondersoek sal na die hele rioolpyplyn en pad gedoen word om seker te maak dat geen verdere sinkgate in Voortrekkerweg skuil nie.

Die verkeer sal vir die duur van die herstelwerk herlei word.

Die verkeer word herlei ná die sinkgat in Voortrekkerweg in Robertson ontstaan het. Foto: verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article