PAARL – Die omstrede saak teen die voormalige Springbok-roeier Jan (JT) Basson, tans ’n boer in die Paarl, en John Woest, ook ’n boer van die Paarl, sal in Oktober vanjaar hervat word.
Die twee word daarvan beskuldig dat hulle in 2021 ’n vermeende vrugtedief doodgeskiet en ’n ander man na bewering aangerand het.
Die saak, wat tans in die Kaapse Hooggeregshof dien, is reeds sedert Augustus 2022 uitstaande nadat dit vanaf die Paarl-landdroshof na die Hooggeregshof oorgeplaas is.
Die vertraging was glo omdat ’n regter en verhoordatum nie voorheen aangewys kon word nie. Die verhoor en regter is intussen vir 26 Oktober bevestig.
Aanklagtes
Basson staan volgens die klagstaat tereg op aanklagte van aanranding, die rig van ’n vuurwapen, poging tot moord en moord, terwyl Woest van poging tot moord en moord aangekla word.
Die staat voer aan dat die moord vooraf beplan is.
Basson en Woest, wat twee plase langs die Sonstraalpad in die Paarl besit, word daarvan beskuldig dat hulle Chatwell Rodgers (40), ’n vermeende vrugtedief en -verkoper van Amstelhof in die Paarl, op 30 November 2021 doodgeskiet het nadat die twee boere die slagoffer tussen die Sonstraalbrug en die N1 met vrugte gewaar het.
“Skote is afgevuur nadat ’n beweerde konfrontasie laat die middag tussen die twee boere en ’n vrugteverkoper, Chatwell Rodgers, ontstaan het,” het Paarl Post op 3 Desember 2021 berig.
Die konfrontasie het na bewering ontstaan toe Basson en Woest die slagoffer oor vermeende vrugtediefstal genader het, luidens die berig.
LEES OOK: Saak teen twee boere eers later
“Die slagoffer en twee vriende het vrugte op die brug verkoop toe die aangeklaagdes hulle begin agtervolg en op die slagoffer begin skiet het.”
Volgens die berig van 3 Desember 2021 het die twee boere beweer die slagoffer wou hulle met ’n panga aanval, maar ’n voorlopige ondersoek het getoon dat die slagoffer wonde aan sy rug gehad het.
Nadat die Paarl-polisie op die toneel opgedaag het, het albei boere hulle aan die polisie oorhandig, waarna hulle in aanhouding geplaas is.
Addisionele aanklagte
Luidens die klagstaat, word Basson – buiten dat hy aangekla word van die moord op Rodgers op 30 November 2021 – ook aangekla van die aanranding op Arnold Coetzee, wat saam met Rodgers op die toneel was.
Volgens die klagstaat het Basson vir Coetzee op dieselfde dag op die Sonstraalpad aangerand deur hom op sy bors te slaan waar hy ook, na bewering, ’n vuurwapen op hom gerig het.
Verder word beide Basson en Woest daarvan beskuldig dat hulle op 30 November 2021 op die Sonstraalpad in die Paarl probeer het om Coetzee te vermoor deur op hom te skiet.
Basson word deur die bekende strafregprokureur William Booth verteenwoordig, terwyl Woest deur advokaat Marius van Zyl verteenwoordig word. Die staatsaanklaer in die saak is adv. Kepler Uys.





