TygerBurger

Vergadering oor staat se wanbesteding van pensioenfonds in Stellenberg gehou

Albin Bowler
Albin Bowler
TygerBurger

Vergadering oor staat se wanbesteding van pensioenfonds in Stellenberg gehou


Politieke inmenging en die plundering van die Regeringspensioenfonds, beter bekend as die Government Employees Pension Fund (GEPF), kom op Donderdag 23 Julie onder die loep by ‘n vergadering van die Association for Monitoring and Advocacy for Government Pensions (AMAGP), ‘n waghond oor die fonds.

Dit is die eerste keer dat AMAGP in die Wes-Kaap vergader. Die vergadering dien ook as die stigtingsvergadering van die Wes-Kaapse struktuur van AMAGP. Provinsiale strukture is reeds in Kwazulu-Nata en die Oos-Kaap gestig.

Bedreiging van pensioenfonds

“Derduisende GEPF-pensioenarisse en staatsdienswerkers is onbewus van die geweldige omvang van die bedreiging van hul pensioenfonds,” sê Albin Bowler, die Wes-Kaapse koördineerder van AMAGP.

“Volgens verskeie mediaberigte verloor die pensioenfonds jaarliks miljarde rande met swak beleggings weens politieke besluite. So is daar in die 2023/24- finansiële jaar meer as R100 miljard verloor weens plundering, asook verlore geleentheidskostes met dié swak besluite.

“Alhoewel die GEPF-bestuur gereeld spog dat dit die grootste pensioenfonds in Afrika is, is die opbrengs op belegging van die swakstes onder Suid-Afrikaanse beleggingsfondse. Al die ander groot beleggingsfondse word egter deur professionele bestuurders bestuur — sonder politieke inmenging.

“Selfs die Vereniging van Staatsamptenare het in ‘n verklaring op 2 Julie sy ernstige kommer en ontsteltenis uitgespreek oor die plundering en swak opbrengste weens ‘ongelyste ondernemings’, of sogenaamde transformasieprojekte,” sê Bowler.

Ooglopende ongelykheid

“Daar is sistemiese onreg, ooglopende ongelykheid en diskriminasie as die GEPF se jaarlikse verhogings vergelyk word met die pensioenfonds vir politici, die Political Office-Bearers Pension Fund (POBPF).

“Vir die 2023/24 finansiële jaar was die beleggingsopbrengs van die GEPF ‘n powere 4,9% teenoor die POBPF se 10%. So gaan dit elke jaar.

” ‘n Rede vir die GEPF se swak prestasie is sy besluit om fondse in ongenoteerde projekte te belê. Hierdie sogenaamde transformasie-projekte presteer swak en vereis gereelde finansiële reddingsboeie. So het GEPF-pensioenarisse miljarde rand verloor net met Ayo Technology Solutions. Laasgenoemde se oorspronklike kapitaalontvangs was R4 miljard. ‘n Ander onderneming, Daybreak Foods, het in 2025 drie reddingsboeie ontvang. Die eerste twee het meer as R400 miljoen beloop,” sê hy.

Moreel problematies

“Hierdie kontras is moreel problematies, aangesien beide pensioenfondse deur dieselfde parlementêre prosesse geskep en goedgekeur is.

GEPF-pensioenarisse vra hoe politici dit regverdig om hul eie aftrede deur wetgewing goed te verseker, maar dan omdraai en ‘n wet maak vir diegene wat die staat se daaglikse werk doen, jaarliks koopkrag te laat verloor. Lewenskostes soos mediese sorg en elektrisiteit styg vinniger as inflasie,” sê Bowler.

“Die GEPF se jaarlikse pensioenverhogings word beperk tot die inflasiekoers — spesifiek 75% van die vorige jaar se inflasiekoers. Oor tyd het hierdie beleid ’n kumulatiewe negatiewe effek. In skrille kontras hiermee het die POBPF geen soortgelyke plafon nie. Sy pensioenverhogings oorskry die inflasiekoers gewoonlik met meer as dubbeld soveel,” gaan hy voort.

“Die GEPF se Raad van Trustees het die diskresie om groter verhogings toe te staan: gelyk aan en selfs bietjie meer as die inflasiekoers. Wanneer pensioenverhogings toegestaan, gelyk is aan die inflasiekoers of selfs effens meer, word dit verkondig as ’n buitengewone prestasie, waarvoor pensioenarisse besonder dankbaar moet wees.

Reddingsboeie

“Diegene wat hierdie ‘ongelyste ondernemings’ stig, wil geld hê; hulle wil nie kapitaal of reddingsboeie by banke of industriële beleggingskorporasies leen nie, want sulke lenings moet met rente terugbetaal word.

“Die politieke invloed en die oorheersing van vakbond-verteenwoordigers in die GEPF se Raad van Trustees — waarvan 13 van die 16 trustees lede van die ANC en Cosatu is — dra by tot swak bestuur,

swak beleggingsbesluite en lei tot reuse finansiële verliese wat GEPF-pensioenarisse benadeel. Boonop glo sommige polities aangestelde raadslede dat die GEPF is ‘n staatsbate waarmee paaie en munisipaliteite en so meer. befonds moet word,” sê hy.

Zirk Gous
Zirk Gous is een van die sprekers.

“AMAGP veg namens GEPF-pensioenarisse vir waardigheid en regverdigheid. Staatsamptenare wat aftree se armoede-siklus skop in na 15 jaar van aftrede en raak erg na 20 jaar na aftrede. Dit is die periode dat kinders hul ouers finansieel moet ondersteun of pensioenarisse ‘n tweede inkomste moet verkry.”

Sprekers by vergadering

Alle Wes-Kaapse GEPF-pensioenarisse en staatsdienspersoneel word uitgenooi om die vergadering by te woon. Dit begin om 11:00 by die NG Kerk Stellenberg. Onder die sprekers is Zirk Gous, voorsitter van AMAGP, en Strini Govendor, koördineerder: massa-mobilisasie van AMAGP.

. Kontak Albin Bowler by albinbowler@gmail.com om bywoning te bevestig.

ALSO READ: Blatant discrimination

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article