UPINGTON – Die 36-jarige Giliano Maasdorp is op Maandag 17 November in die landdroshof in Upington van moord, poging tot moord, inbraak, diefstal en brandstigting aangekla. Dit volg op die aanval Saterdagoggend vroeg op ‘n bejaarde egpaar van Oosterville in die dorp, waarna hul huis in ‘n meenthuiskompleks aan die brand gesteek is.
In die aanval is die 82-jarige Hennie Muller oorlede, terwyl sy vrou, Debbie (72), ernstig beseer is.
Voor die hofverskyning Maandag het meer as 100 mense van verskeie organisasies en politieke partye voor die hof byeengekom om aan te dring dat borgtog nie toegestaan word nie.

Volgens inligting het kompleks-inwoners Saterdag gesien die Mullers se huis is in vlamme en onmiddellik opgetree. Hennie is in die bed gevind, met veelvuldige steekwonde, en is by die huis oorlede. Debbie is met ernstige beserings na ‘n hospitaal vervoer.
Die verdagte is Saterdag in hegtenis geneem en gesteelde artikels is in sy besit gevind. Hy het glo ‘n vorige veroordeling teen hom.
Toenemende geweldsmisdaad wek kommer
Henk Opperman, DA-sweep, sê die party doen ‘n beroep op die polisie om met die Dawid Kruiper-munisipaliteit teen toenemende geweldsmisdaad in Upington op te tree.
Hy sê misdaad in Upington, veral in Oosterville, Keidebees en Middelpos, het die afgelope vyf jaar toegeneem. Gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) het ook kommer uitgespreek oor die toenemende aantal mense wat in die veld rondom hierdie gebiede woon.

Die polisie trek glo skouers op en plaas die onus op die munisipaliteit om die saak te hanteer. Op sy beurt plaas die munisipaliteit die skuld op die gebrekkige kapasiteit binne sy wetstoepassingstruktuur, en vir dié rede kan veiligheidskwessies soos die toenemende onwettige besetting van grond rondom die dorp nie deur die munisipaliteit aangespreek word nie.
Priscilla Isaacs, DA-LPW en Noord-Kaapse kiesafdelinghoof, sê die party verwelkom die vinnige optrede van die polisie om die verdagte in hegtenis te neem en gesteelde artikels terug te kry.
LEES OOK: Elderly couple assaulted during nighttime burglary
‘n Algemene gevoel bestaan dat onmiddellike planne vereis word om die veiligheidsituasie te versterk aangesien die Noord-Kaap die enigste provinsie is wat aan die begin van 2025 ‘n toename in geweldsmisdaad soos moord en poging tot moord aangeteken het.
Polisiekommissaris van die ZF Mgcawu-distrik, genl.maj. Monica Sebili, veroordeel die aanval op die Muller-egpaar. Sy bedank lede van die publiek vir optrede en bystand, asook die veiligheidsmagte, vir vinnige optrede.
Op Facebook skryf ‘n Upington-inwoner: “Vandag toe ek in Rondomstraat afry so 12:00 toe sit daar alweer 2 bosslapers op die randsteen besig om ‘n huis dop te hou. Asb ons moet ‘n plan kry vir almal in Oosterville, Keidebees en Middelpos.”
Hierop gee ‘n ander raad: “Konfronteer hulle elke dag. Maar almal moet dit doen. Nonstop wegjaag. Kry die buurtwagte om saam te werk.”
Nog ‘n inwoner sê sulke voorvalle gebeur in ander buurte soos Rosedale, Paballelo, Progress en Morning Glory.
Die verdagte het nie aansoek om borgtog gedoen nie en sy volgende hofverskyning is op 12 Januarie, sê sers. Omphile Masegela, polisie-woordvoerder in die ZF Mgcawu-distrik.
LEES OOK: American citizen wanted for kidnapping arrested in Northern Cape






You must be logged in to post a comment.