KROONSTAD – Medelye het op sosiale media ingestroom nadat bekend geword het dat die bekende veearts van Kroonstad, dr. JW Eksteen, oorlede is.
Danie Minnaar, woordvoerder van die Eksteen-familie, het Saterdagoggend 21 Februarie sy afsterwe bevestig. Eksteen (51) is Maandag 9 Februarie ernstig beseer toe ’n buffel hom tydens ’n voorval op ’n wildsplaas buite Clocolan aangeval het.

Hy is onmiddellik ná die voorval na die spreekkamers van drs. Joubert en Beeton in Clocolan geneem, waar hy behandel en gestabiliseer is. Daarna is hy per helikopter na Mediclinic Bloemfontein oorgeplaas vir verdere behandeling.
LEES OOK: Mediese span kry man blitsvinnig in teater ná buffel-voorval
Vanoggend het Trio Primêr hul medelye op hul Facebook-blad uitgespreek: “Met diepe hartseer verneem ons van JW Eksteen se afsterwe. In hierdie moeilike tyd hou ons die Eksteen-familie in ons gedagtes en gebede. Mag julle krag en vertroosting vind in die liefde en ondersteuning van familie en vriende, en mag die kosbare herinneringe aan JW julle dra deur die dae wat voorlê.”
Minnaar het versoek dat die familie se privaatheid gerespekteer word en aangedui dat enige verdere inligting deur toepaslike kanale gekommunikeer sal word.





You must be logged in to post a comment.