PAARL – Die voorgestelde verkoop van gedeeltes van Van der Lingen- en Patriot-plein in die Paarl het aandag getrek nadat twee onafhanklike waardasies beduidend verskillende pryskaartjies op die eiendomme geplaas het – onderskeidelik R24,48 miljoen en R9,8 miljoen, waarvan die laer prys deur die munisipaliteit goedgekeur is.
Die eiendomme vorm deel van ‘n breër herontwikkelingsvoorstel in die Paarlse sentrale sakekern, luidens Januarie se raadsvergadering se sakelys.
Die hoër waardasie
Die eerste waardasie van R24,48 miljoen, uitgevoer deur HCB Property Valuations, het die markwaarde op R24 480 000 vasgestel soos op 1 Julie 2025.
Volgens die waardasieverslag het die waardeerder die “vergelykende metode” gebruik, waar soortgelyke eiendomme en parkeerfasiliteite in vergelykbare gebiede beoordeel is.
‘n Beduidende komponent van die waardasie is gebaseer op bestaande parkeerinkomste.
Die verslag het bereken:
- Die aantal parkeerruimtes oor die verskillende erwe;
- Die beraamde huurinkomste per parkeerplek;
- Die totale maandelikse inkomste;
- Minder as 20% vir bedryfskoste; en
- Gekapitaliseer teen ‘n koers van 9%.
Vakante grondgedeeltes en kommersieel gesoneerde gebiede is ook by die totale waardasie ingereken.
Die laer waardasie
‘n Tweede onafhanklike waardasie het ‘n verkoopprys van R9 800 000 aanbeveel, wat uiteindelik deur die munisipale raad as die voorgestelde transaksiewaarde uitgewys is.
Die raadsverslag verduidelik dat hierdie laer bedrag verskeie ontwikkelingsvoorwaardes en beperkings weerspieël wat aan die eiendom gekoppel is. Dit sluit in:
- Die behoud van parkeerruimtes;
- Die bewaring van ‘n voetgangervriendelike openbare plein;
- 30 minute gratis openbare parkering by Patriot-plein;
- Serwitute en openbare infrastruktuurvoorwaardes; en
- Ontwikkelingsverpligtinge wat op die koper geplaas word.
Die verslag meld ook dat die terrein nie as ‘n volkome onbeperkte kommersiële eiendom verkoop of ontwikkel kan word nie en gedeeltelik vir openbare gebruik bestem moet bly.
Waarom die verskil?
Die verskil van bykans R14,7 miljoen spruit grootliks uit die wyse waarop die eiendom in elke waardasie hanteer is, luidens die waardasieverslae:
- Die R24,48 miljoen-waardasie neem die bestaande inkomste-genererende potensiaal van die parkeerruimtes en vergelykbare marktransaksies in ag; en
- Die R9,8 miljoen-waardasie verreken ontwikkelingsbeperkings, openbare gebruiksvereistes en breër herontwikkelingsverpligtinge wat aan die transaksie gekoppel is.
Die raad voer aan dat die voorgestelde herontwikkeling bedoel is as ‘n kata-
lisatorprojek om die Paarlse sakekern te herleef, en dat die ekonomiese en gemeenskapsvoordele deel vorm van die regverdiging vir die laer verkoopprys.
Die voorgestelde transaksie is onderhewig aan openbare deelname en goedkeuringsprosesse.
Die proses is tans oop vir openbare deelname en sluit op 5 Maart.
Drakenstein-munisipaliteit se terugvoer
“Die Drakenstein-munisipaliteit (DM) se raad het die vervreemding van Patriot- en Van der Lingenplein in beginsel goedgekeur, onderhewig aan spesifieke ontwikkelingstydperke en vereistes soos uiteengesit in die raadsbesluit,” aldus Seraj Johaar, die DM se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste.
LEES OOK: Groen lig vir verkoop van Van der Lingen- en Patriotpleine
“Die DM het ‘n tweede, onafhanklike waardasie laat uitvoer omdat die aanvanklike waardasie parkeerruimtes in die Kaapstad-middestad en by die Seepunt-promenade as vergelykings gebruik het – terreine wat nie met die parkeerbehoeftes van Van der Lingen- en Patriotplein ooreenstem of vergelyk kan word nie. Die eerste waardeerder het ook nie die ontwikkelingsbeperkings en openbare gebruiksvoorwaardes wat op die twee pleine van toepassing is, in ag geneem nie. Nadat die tweede waardasie afgehandel is, het die munisipaliteit nie weer die eerste waardeerder geraadpleeg nie, aangesien waardasies onafhanklik moet geskied en die doel was om ‘n onbevooroordeelde, tweede professionele opinie te bekom.”
“Die munisipaliteit is derhalwe nie in kennis gestel van die eerste waardeerder se metodologie of die redes vir die oorspronklike benadering nie.
“Die tweede waardeerder het ‘n skriftelike motivering verskaf, en die munisipaliteit is tevrede dat hierdie waardasie billik en markverwant is.”





