PAARL – Nuwe verwikkelinge het aan die lig gekom rakende die beplande Upper Bosman Estate-ontwikkeling in Hoog-en-Droog in die Paarl, nadat ‘n verteenwoordiger van die projek op 13 Maart in die Drakenstein-munisipaliteit (DM) se munisipale hof verskyn het weens onreëlmatighede op die perseel.
Volgens Seraj Johaar, die DM se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, het die hofverskyning gevolg op ‘n ondersoek waartydens sekere werksaamhede op die perseel as onveilig verklaar is.
“‘n Gemagtigde verteenwoordiger van die Upper Bosman Estate-ontwikkeling het op 13 Maart in die Drakenstein- munisipale hof verskyn nadat Drakenstein-munisipaliteit na afloop van ‘n ondersoek sekere werksaamhede op die terrein as onveilig verklaar het,” het Johaar bevestig.
Tydens ‘n inspeksie het die munisipaliteit bevind dat ‘n kontrakteur na bewering ongemeterde water uit ‘n buitekraan op die eiendom gebruik het. Daarbenewens is ‘n brandkraan op die terrein glo twee keer beskadig.
“Die hofverrigtinge is uitgestel om die gemagtigde verteenwoordiger toe te laat om bykomende inligting aan die hof te verskaf,” het Johaar gesê.
Die munisipaliteit het intussen die betrokke kraan verwyder en die beskadigde brandkraan vervang. Die koste vir herstel en vervanging sal van die betrokke partye verhaal word. Die ontwikkelaar is ook verplig om die brandkraan buite die grense van die eiendom te herposisioneer om verdere skade te voorkom.
Die eiendom waarop die ontwikkeling beplan word, behoort aan die ontwikkelaar self.
Die Upper Bosman Estate, ‘n nuwe residensiële ontwikkeling in Upper Bosman-straat, bestaan uit slegs enkelverdiepingstrukture en word op private eiendom in die gewilde Hoog-en-Droog-gebied beplan.

Johaar het by ‘n vorige geleentheid gesê die nodige studies is ingedien voordat die DM ‘n grondgebruikaansoek vir die ontwikkeling goedgekeur het.
“Die grondgebruikaansoek is goedgekeur onder die streng voorwaardes dat die ontwikkeling tot enkelverdiepingstrukture beperk word en dat so min as moontlik grondverskuiwing moet plaasvind.”
LEES: Nuwe residensiële ontwikkeling vir die Paarl beplan
Die aansoek is in Paarl Post geadverteer en kennisgewing is aan eienaars van omliggende eiendomme gegee, in ooreenstemming met die standaard wetlike vereistes. Bouplanne is egter nog nie by die munisipaliteit ingedien nie en die tydlyn vir die aanvang van bouwerk bly dus onseker.
Die ontwikkelaar sal verantwoordelik wees vir die installering van interne dienste sowel as die opgradering van eksterne infrastruktuur. Gedetailleerde water- en rioolkapasiteitsontledings is reeds tydens die goedkeuringsproses gedoen en enige nodige opgraderings moet deur die ontwikkelaar gefinansier word.
Luidens ‘n advertensie wat op 13 Februarie op Property24 geplaas is, bestaan die ontwikkeling uit ses erwe, waarvan drie reeds verkoop is. Die erwe van 1 000 m² elk word vir R15 m elk geadverteer.
“Die landgoed is veilig omhein met ‘n duidelike uitsig en beskik oor gevorderde KI-sekuriteitstelsels wat gekoppel is aan gewapende reaksie, wat gemoedsrus vir inwoners verseker,” lui die advertensie.
Die erwe word deur Synergy in Developments, ‘n eiendomsontwikkelingsmaatskappy in Durbanville, bemark.
Gesigherkenning en biometriese tegnologie word ook ingespan, volgens die advertensie op Property24 en ook op Synergy in Developments se webtuiste.
Buiten die Upper Bosman Estate is vyf residensiële eenhede onlangs in Enslinstraat, ook in Hoog-en-Droog, goedgekeur, wat ongeveer 20 mense kan huisves.





