Die Oos-Kaap se gunstelingfamiliefees, die SPAR Kirkwood Wildsfees, is einde Junie terug in volle gang met 24 nasionaal gewilde sterre op die groot Wildsfees-verhoog.
Jenni Honsbein, feesdirekteur, sê hulle kry reeds uitstekende terugvoer oor die SPAR Kirkwood Wildsfees wat van Vrydag 24 Junie tot Sondag 26 Junie gehou word.
“Gereelde feesgangers het ons klaar laat weet hulle is super opgewonde om hulself weer in die Karoo-lug te kan geniet.”
Alan Stapleton, bestuurder borgskappe en ontspanningsgeleenthede van SPAR Oos-Kaap is verheug oor die terugkeer van die Wildsfees.
“Om terug te gee aan plaaslike gemeenskappe is een van ons kern doelwitte. Deur ons vennootskap met die Wildsfees, ondersteun ons die Kirkwood-gemeenskap en dìt op sy beurt is weer in ooreenstemming met baie van die waardes wat deur SPAR gekoester word.”
Vooruitbespreekte kaartjies is die beste ooit in die fees se geskiedenis. Tog sal daar steeds kaartjies te koop wees by die toegangshekke.
Jennifer Zamudio open Vrydag 24 Junie die vermaaklikheidsprogram op die hoofverhoog terwyl Juanita du Plessis en familie – Franja and Ruan – die fees op ‘n hoë noot op Sondagmiddag sal afsluit.
Die plaaslike sensasie Early B is die hoofkunstenaar Saterdagaand met die sterre Lianie May, Kurt Darren, Appel, Dr Victor & the Rasta Rebels en Van Pletzen wat die verhoog met hom deel.
Die Oos-Kaapse klopse GQ Entertainers van die Baai, sal Saterdag weer Kaapstadse karnavalklanke na die verhoog bring voor Desmond Wells sy buiging op die verhoog maak.
Daar sal ook meer as 300 uitgesoekte stalletjies wees en ’n spesiale karnaval-area waar die jong feesgangers hulself kan geniet.
By die Bos Bistro is dit weer pure Mexiko met sombrero en al vir besoekers wat lus is vir ‘n Mexiko-fees van tequila en ander skemerkelkies. Natuurlik is daar ook soesji, oesters, charcuterie borde (vleis- en kaas partytjiehappies) biltong, koedoe burgers, alles aangebied in ‘n tradisionele feesgees.
Omgewingsbewaring is ook sterk in die kollig met uitstallings deur SANPARKE en die Oos-Kaapse Parke en Toerisme Agentskap, ‘n Noord-Kaapse byeboer en vele meer.
Bykomend tot dit alles is die SPAR Kirkwood Wildsfees weer die gasheer van die Oos-Kaap se grootste motor, landbou en buiteluglewe uitstallings. Kyk ook maar uit vir die Boerboel-vertoning.
Die immergewilde Kirkwood Wildsfees Wildsveiling 2022 word op Vrydag 24 Junie by die Mayogi Bomas gehou. Dit begin om 12:00.
Besoekers hoef nie ‘n COVID-19 inenting sertifikaat of ‘n negatiewe PCR toets saam te bring nie, het die gesondheid- en veiligheidskonsultant,Phrosné Phillips, gesê.
“Die Wildsfees op sigself sal aan al die regering se COVID-19 protokol, soos bepaal deur die huidige regulasies, voldoen.”
Kaartjies is beskikbaar teen R200 per volwassene per dag en R100 vir skoliere.
– UITGEREIK: SIYATHETHA COMMUNICATIONS




