KARIEGA – Max Kulati het die naweek in die Baai ‘n droomdebuut as kragoptel-afrigter gemaak toe sy Kariega-student Chantelle du Mont-Nell ‘n nuwe OP-meestersrekord in die hurksit opgestel het.
Kulati, gewilde rolstoel-liggaamsbouer, is in die sewende hemel.
“Dis ongelooflik. Ek is só trots op Chantelle. Woorde kan nie beskryf hoe ek op hierdie oomblik voel nie. Sy het alle verwagtinge oortref. Chantelle het almal verras. Ons is só trots op haar wen, en weet sy kan nóg beter vaar vorentoe.
“Haar spanmaats het haar deurgaans aangemoedig en sy het duidelik gewys sy is ‘n deelnemer om vorentoe dop te hou. “Ek is vandag ‘n baie trotse afrigter,” sê hy.
Chantelle het by die Eastern Cape Classic by die Kaap Receife-skool in Somerstrand die oë laat rek toe sy met 90kg geslaag het vir ‘n nuwe OP-rekord in die meesters 1-afdeling. Met dié poging het sy waarskynlik ook gekwalifiseer vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Johannesburg.

Wat Chantelle se rekord nog meer merkwaardig maak is dat sy eers op 5 Januarie met gewigte begin oefen het. Sy het in die borsopdruk met 50kg geslaag en met 120kg in die dooiegewigoptel.
Die jaar kon nie op ‘n groter hoogtepunt vir Kulati begin het nie. Hy het ook pas verneem dat hy ‘n finalis is vir die Oos-Kaapse Sportman van die Jaar-toekenning in die kategorie vir gestremde atlete wat 13 en 14 Februarie by die Wild Coast Sun by Mbizana gehou word.
Kulati het verlede jaar by dieselfde geleentheid ‘n spesiale toekenning ontvang.
“Ja, ek was baie verras om hierdie oproep te kry. Dis vir my ‘n baie groot eer omdat daar talle ander aanspraakmakers is wat net so hard oefen soos ek. As jy aan jou drome glo sal die Here dit vir jou moontlik maak,” sê hy.





You must be logged in to post a comment.