Monique Haven-hulpsentrum: ‘Ons soek manne om na op te sien’

Elma Saalman (middel) die stigterslid van Monique Haven vir vernielde vroue en kinders in Despatch se Reservoir Hills. Links van haar staan Carmenita Claasen , veldwerker en regs Sheldene Moodily , veldwerker.

Foto: Mariska Spoormaker

“Jy is nie ’n man nie wanneer jy ’n vrou of ’n kind verkrag. Jy is nie ’n man nie as jy ’n vrou of ’n kind trap of skop. Jy is nie ’n man nie as jy eise aan jou vrou stel voor sy geld vir die huishouding kry nie. Jy is nie ’n man nie as jy jou woonplek ’n plek van onveiligheid vir jou mense maak. Jy is nie ’n man nie as jy jou loon of salaris opdrink.”

Die bogenoemde stellings wat Elma Saalman maak, het sy nie uit ’n boek of op internet gekry nie, maar wat sy uit die lewe self geleer. Elma is die stigter van Monique Haven, ’n hulpsentrum vir vernielde en verkragte vroue in Despatch se Rerservoir Hills.

Dié sentrum is na die meisie Monique (4) van Reservoir Hills vernoem wat 20 jaar gelede wreed verkrag en vermoor is. Tot vandag toe is niemand vir haar moord aangekeer nie.

“Hierdie grusame daad was só erg dat ons vroue van die gebied elke jaar haar moord-dag met ’n protesoptog herdenk het. Maar naderhand het ons besef ons moet ophou, want die protesoptogte ruk elke keer opnuut die ma se seer oor haar kind oop,” verduidelik Elma.

Haar blik dwaal oor die huise in die omgewing, vou haar hande voor haar maag, en sê dan: “Maar ek kon nie terugstaan en niks verder doen nie. Ek het besluit só iets mag nooit weer gebeur nie.”

Weens Elma se deurlopende bystand aan Monique se ma ten opsigte van die regsprosesse wat na ’n verkragting gevolg moet word, het sy besluit om die nie-regeringsorganisasie Monique Haven te stig om voorgesette bystand aan verkragte vrouens en kinders te bly gee.

Monique Haven is sedert 2017 in ’n huisie aan die bopunt van Versoeningstraat.

“Nou help ons nie net vroue en kinders wat verkrag is nie, maar ook hulle wat deurloop onder geslagsgeweld, huishoudelike geweld en dwelmmisbruik.

“Ons help slagoffers om met die regte mense, wat voortgesette hulp kan bied, in kontak te kom.

“Omdat ons sukkel met befondsing, kan ons nie mense inneem nie. Maar gelukkig werk ons baie goed saam met die polisie en die maatskaplike werkers, ons verwys die mense soontoe, of na veilige hawens op Uitenhage,” sê Elma.

Tog, al is die samewerking tussen Monique Haven en die nabygeleë polisie en maatskaplike werkers so uitstekend, is daar ‘n paar dinge wat krap. Elma verduidelik.

“Daar is nie altyd genoeg voertuie nie vir die polisiebeamptes of die maatskaplike werkers om uit te kom hierheen wanneer daar ‘n saak is. Ek weet nie hoe dink die regering hoe kan jy gesonde wetstoepassing handhaaf as daar nie genoeg voertuie en wetstoepassingbeamptes is nie?”

En vir die Suid-Afrikaanse man het Elma in Augustus, vrouemaand, die volgende boodskap:

“Word ’n man. Wees ’n beskerming vir jou vrou, vir jou kinders én vir die kind en die vrou in die straat.

“Ons soek manne om na op te sien. Manne wat verkrag is lafaards en ons sal like om te sien dat manne ook opstaan teen hierdie lafaards,” sê Elma.

  • Kontakbesonderhede vir Monique’s Haven is 074 331 8823 en epos is: havenmonique0@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article