Nagenoeg 120 Oos-Kaapse onderwysers gaan die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) se Woeker met Wiskunde-konferensie op 27 Augustus op Kirkwood bywoon.

Die SBA is ‘n nie-winsgewende organisasie wat geletterdheid deur Afrikaans ontwikkel. Wiskunde word ook as ‘n vorm van geletterdheid beskou en daarom het hulle die afgelope ses jaar Wiskunde-ondersteuning in Afrikaans beskikbaar gestel deur middel van Woeker met Wiskunde-konferensies.

Van Lill & Jovner Consulting Pty Ltd bied namens die SBA en in samewerking met die Oos-Kaapse onderwysdepartement, die konferensie aan.

Tydens die konferensie sal nuwe vaardighede wat vooraf in areas van die wiskunde-kurrikulum geidentifiseer is, aan Afrikaanssprekende laer- en hoërskool wiskunde-opvoeders oorgedra word.

Praktiese hulpmiddels wat in die wiskunde-klaskamer aangewend kan word, sal ook aan die opvoeders verskaf word.

Suma Jovner van Van Lill & Jovner Consulting Pty Ltd sê: “Woeker met Wiskunde is nie ’n reeks lesings nie, maar praktiese sessies met verskillende tegnieke om onderwysers te help om iskunde vir leerders te ontsluit. Met so ’n dag wil ons weer onderwysers opgewonde maak oor wiskunde.”

Gerswin Cupido, SBA projek-organiseerder sê wiskunde is naas jou moedertaal die belangrikste vak op skool.

“Dit is op elke gebied van jou bestaan nodig om ‘n volronde geletterdheidslewe te kan lei. Leerders moet gehelp word om wiskunde vreesloos met begrip te bemeester en om met toewyding, vaardigheid en ’n liefde vir syfers en simbole te kweek.”

Dit is die tweede Wiskunde-konferensie vir die jaar. Die vorige een is met groot sukses in Parkwood, Wes-Kaap gehou.

– UITGEREIK: SBA

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article