Max Kulati
Max Kulati bevind hom in die rol van afrigter. Foto: Verskaf

KARIEGA – Terwyl die gestremde liggaamsbouer Max Kulati voorberei vir ‘n strawwe 2026, bevind hy hom skielik in die rol van afrigter.

Saterdag (7 Februarie) is hy aan Chantelle du Mont-Nell se sy wanneer sy aan die Eastern Cape Classic-kragoptelkompetisie by die Kaap Receife-skool in Somerstrand deelneem. Haar deelname is uiters indrukwekkend as in ag geneem word dat sy nou net sowat ‘n maand oefen.

Max Kulati, Chantelle du Mont-Nell
Max Kulati kyk toe dat Chantelle du Mont-Nell die dooiegewigoptel reg doen. Foto: Verskaf

“Chantelle het op 5 Januarie vir die eerste keer by die Metrogym in Kariega ingestap. Sy het gestaan en kyk hoe ek ander lede afrig en ek het haar gevra om by ons aan te sluit.

“Dit was sommer so klein kompetisie om te sien wie die sterkste man en vrou in die gym is om opwinding vir die lede te verskaf.

“Ek het haar toe oorreed om deel te neem waarop sy tweede geëindig het. Ek kon sien sy is sterk en dat sy wilskrag het.

“Ek het toe besluit om haar vir ‘n regte kompetisie in te skryf omdat sy daarvan hou om met swaar gewigte te oefen. My voorstel dat ons kragoptel doen het haar onmiddellik laat glimlag en nou gaan ons voluit daarvoor.

“Ja, uiteraard is ek op my senuwees, maar ook gelukkig omdat dit die eerste keer sal wees dat ek my op dié vlak begewe. Vir my is dit ‘n reuse-uitdaging en ek hoop dat dit vorentoe ook ander deure vir my sal oopmaak in sport,” sê Max.

Chantelle sal in die meesters1-afdeling en in die gewigsgroep onder 83kg deelneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article