NÁ ’n afwesigheid van twee jaar, gaan die lugruim bo die Uitenhage-vliegveld vanjaar weer ’n skouspel wees tydens die fees van vlerke en wiele wat op Saterdag, 2 April gehou gaan word.
“Dit gaan nou regtig ons grootste lugskou nog wees, met die hoogtepunt om die Goodyear Eagles se Pitt Specials akrobatiese vliegtuie vir die eerste keer in die dorp se geskiedenis hier in aksie te sien. Ons het dit ook in 2020 gesê, maar toe vlieg die pandemie deur die wêreld en kom kelder ook ons fees,” sê Lourens Kruger, ’n organiseerder van die Klinicare Wings & Wheels-fees.
Die internasionaal bekende kunsvlieënier Patrick Davidson van die Red Bull-kunsvliegspan sal ook lugtoertjies uitvoer. Ander vliegtuie wat feesgangers se oë op die lugruim bo Uitenhage-vliegveld vasgenael gaan hou sluit in L29 en L39 vegvliegtuie, ’n Boeing Stearman, Harvard en verskeie ander vliegtuie.
“Feesgangers gaan nie weet waar om te kyk nie. Dit is nie net vliegtuie in die lug nie, daar gaan ook motorfietse wees wat tuimel en van die wilde wragtig viertrek-kragmonsters wat die asems gaan laat ophou by hindernisse.”
Wat die vierwiele betref gaan daar veldwedrenkarre in aksie wees, die vierwiel-uitdagings, verskeie veteraan- sowel as nuwe motors. Tweewiel-aanhangers kan hulle regmaak vir ’n adrenalien-belaaide vertoning deur motorfiets-waaghalse. Ander aksie van die dag sluit in valskermspronge en helikopterritte.
“’n Hoogtepunt op die vermaaklikheidsverhoog is Wicus van der Merwe, Cordelia en Monqiue Steyn wat vanaf 18:00 gaan optree. Voor hulle sal verskeie plaaslike sangers optree,” sê Kruger.
Stalletjiehouers wat deel wil wees van vanjaar se Klinicare Wings & Wheels kan nou reeds hul plekke bespreek.
Vanjaar is dit die die agtste Wings & Wheels-fees by die Uitenhage-vliegveld en die lugskou is van 10:00 tot 12:00. Toegang om al dié aksie en sangers te beleef is R100 vir volwassenes, R50 vir hoërskoolleerders en gratis toegang vir kinders onder 12 jaar. Feesgangers word versoek om hul eie stoele saam te neem.
- Vir meer inligting of stalletjiestaanplek bel Suzette Kruger by 082 447 0353.




