Goodyear Eagles se Pitt Specials gaan by vanjaar se Klinicare Wings & Wheels-fees by Uitenhage-vliegveld sorg vir asemrowende lugtoertjies. Foto:GOODYEAR EAGLES AEROBATICS

VANJAAR se fees van vlerke en wiele op die Uitenhage-vliegveld gaan ’n skouspel van aksie op die grond en in die lug wees.

“Feesgangers gaan nie weet waar om te kyk nie. Dit is nie net vliegtuie in die lug nie, daar gaan ook motorfietse wees wat tuimel en van die wilde wragtig viertrek-kragmonsters wat die asems gaan laat ophou by hindernisse,” sê Lourens Kruger, ’n organiseerder van die Klinicare Wings & Wheels-fees.

“Dit gaan ons grootste vliegskou nog wees met die hoogtepunt om die Goodyear Eagles akrobatiese vliegtuie vir die eerste keer hier in aksie te sien.”

Die internasionaal bekende kunsvlieënier Patrick Davidson van die Red Bull-kunsvliegspan sal ook lugtoertjies uitvoer. Ander vliegtuie wat feesgangers se oë op die lugruim bo Uitenhage vasgenael gaan hou, is ’n vertoning deur ’n Bosbok-vliegtuig, RV Raptors, Whisper X en ’n L209-vegvliegtuig.

Wat die vierwiele betref gaan daar veldwedrenkarre in aksie wees, die vierwiel-uitdagings, verskeie veteraan- sowel as nuwe motors. Tweewiel-aanhangers kan hulle regmaak vir ’n adrenalien-belaaide vertoning deur motorfiets-waaghalse. Ander aksie van die dag sluit in valskermspronge en helikopterritte.

“’n Hoogtepunt op die verhoog is om Bok van Blerk saam met sy orkes vanjaar hier te hê,” sê Kruger.

Ander kunstenaars wat by die fees gehoor gaan word is verskeie plaaslike sangers, Wicus van der Merwe, Cordelia en Monqiue Steyn.

Stalletjiehouers wat deel wil wees van vanjaar se Klinicare Wings & Wheels kan nou reeds hul plekke bespreek.

Vanjaar die agtste Wings & Wheels-fees by die Uitenhage-vliegveld word op Saterdag, 4 April aangebied. Toegang om al dié aksie en sangers te beleef is R100 vir volwassenes en hoërskoolleerders en R30 vir kinders onder 12 jaar. Feesgangers word versoek om hul eie stoele saam te neem.

  • Vir meer inligting of stalletjiestaanplek bel Lourens Kruger by 082 320 2615.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article