Die tyd is verby om te sit en kla en kerm oor swak munisipale dienslewering, want beter gaan dit beslis nie raak nie. As jy ‘n verskil in die dorp of jou woonbuurt wil sien, doen dit self. Maak reg en maak skoon waar jy kan.
Dit is die boodskap van Kariega-sakeman Armand du Preez, wat met die hulp van sy twee seuns en nog ‘n paar helpers, die afgelope twee weke reeds meer as 50 gevaarlike slaggate in die dorp se strate, op eie onkoste reggemaak het.
Vrydagaand, terwyl meeste inwoners ontspan het, het die Du Preez-broers met onder meer swaar spoorstaaf-stampers as deel van hulle gereedskap, 24 slaggate reggemaak (19 voor Hoërskool Brandwag en vier in Carinus-rylaan).
“As een gesin 40 slaggate in ‘n week regmaak, kan die dorp sonder ‘n enkele slaggat wees as meer inwoners betrokke raak. Mense moet ophou om te sit en mirmireer en begin om self ‘n verskil te maak. Just do it,” sê Du Preez, eienaar van Furnworld International.
Goeie nuus vir inwoners van Vanes is dat dié Du Preez-span en nog ‘n paar sterk arms, ook die reuse slaggat in Smuts-rylaan, wat sedert 2021 verskeie motorbande ge-eis het, reggemaak het.
“Ek het nie geweet ek kan teer koop nie. Toe ek uitvind dit is moontlik, het my suster ge-Google hoe om potholes op die regte wyse reg te maak. Ek het by Roelf toestemming gekry en so het ons begin om ons strate weer rybaar te kry,” sê Du Preez.
Hy verduidelik dat hulle eers al die sand en klip uit slaggate haal, dit dan kompakteer, bitumen ingooi en dan opvul met ‘n G5-klipmengsel met bietjie sement en teer. Daarna kom die harde stampwerk met die swaar spoorstaaf-kompakteerders wat Werner Gouws gemaak het.
“Ek wil nie hê die mense moet sê kyk die potholes wat Armand reggemaak het, maak duike of as dit reën pop dit weer oop nie. Ons handewerk moet beter wees as die munisipaliteit s’n.
“Dit neem ‘n hele paar uur om ‘n groot slaggat reg te maak. Daarom tackle ons eers die groot gate wat skade aan voertuie veroorsaak. Omdat meeste in besige strate is, begin ons laat werk wanneer die verkeer stiller en veiliger is,” sê Du Preez.
Volgens raadslid Roelf Basson van Wyk 51, is Du Preez se optrede in lyn met sy visie vir Kariega dat inwoners betrokke moet raak by projekte.
“Die probleem by die munisipaliteit is dat die kontrak vir teer nie in plek is nie. Ek waardeer ongelooflik wat Armand en sy span vir Kariega doen. Indirek red hulle lewens deur dié gevaarlike slaggate reg te maak, op die regte manier,” sê Basson.
Hy sê hy wil Armand se goedheid as motivering gebruik en ander sakemense aan te moedig om ook betrokke te raak by projekte op Kariega.
Op sy beurt sê Du Preez, “Ek werk lekker saam met Roelf, hy is ‘n raadslid wat self werk. Dit is iets wat jy nie sommer kry nie, daar is baie praters maar min doeners.”
Kariega-inwoners word versoek om raadslid Basson se kantoor by 041 922 7815 te bel om groot en gevaarlike slaggate aan te meld.



