DESPATCH – Despatch bars van trots nadat Danie Fourie die dorp se eerste wêreldmeesterskampioen in stoei geword het vir deelnemers ouer as 60 jaar.
Die internasionale kompetisie is die eerste keer in Suid-Afrika aangebied en in Pretoria gehou. Boonop het hy sommer met ‘n dubbele triomf teruggekeer huis toe nadat hy in die vrystyl en Grieks-Romeins geseëvier het. Fourie se teenstander was boonop swaarder as hy.
Fourie (64) het twee jaar gelede die oë laat rek toe hy na ‘n afwesigheid van 20 jaar na mededingende stoei teruggekeer het. Hy word steeds oorval met gelukwense en sê hy is trots op homself dat hy sy doel bereik het.
“Ja, dis ‘n geweldige groot eer vir my, maar ook bly vir ons as dorp waar elke oefening en elke kragmeting met oorgawe aangepak word,” sê hy.
Gevra wat sy onmiddelike doel vorentoe is, het Fourie gesê: “Nog nie heeltemal seker nie. Ek en my vrou Benita moet dit nog bespreek. Ek moet Benita ook bedank vir haar bystand deur die jare, maar ook vir my spanmaats wat so getrou saam geoefen het.”
Fourie was egter nie Despatch se enigste ster nie, want die klub het met ‘n handvol medaljes teruggekeer na die Oos-Kaap. Trevor White was self aan die brand met twee silwermedaljes in die vrystyl en Grieks-Romeins.
En dan het Hansie Stroebel ‘n bronsmedalje vir die klub in die vrystyl behaal.
In die Big 5-toernooi het Danie Els ook sy ervaring ingespan om met ‘n goue en silwermedalje weg te stap. Eben Weitz en Norman Kilian het ook silwer gekry en Malan Strydom ‘n brons in die skole-afdeling.
LEES OOK: Plaaslike stoeiklubs is elk twee SA kampioene ryker




