Christa Hansen en Lowrence Moore
Christa Hansen en Lowrence Moore. Foto’s: Verskaf

DESPATCH – Despatch het stil-stil twee van Suid-Afrika se nuwe jukskei-sterre ryker geword. Hulle is Christa Hansen en Lowrence Moore, wat vanjaar na nóg hoër hoogtes mik.

Christa is tans die dorp se enigste Protea-speler, terwyl Lowrence ‘n SA meesterspeler is. Christa, wat laas jaar ook as die Nelson Mandelabaai-distrik se Polisie-vrou van die jaar aangewys is, sê Despatch se manspan het verlede jaar die goue medalje gewen by die SA meesterstoernooi, terwyl die vrouespan die silwermedalje in afdeling D gewen het.

lowrence moore
Lowrence Moore. Foto: Verskaf

Christa sê jukskei op Despatch het op ‘n stadium doodgeloop, maar die afgelope vyf jaar is hulle weer behoorlik aan die gang.

“Ons is tans 14 lede wat die afgelope vyf jaar weer begin het met die jukskei op Despatch – en ons speel tans onder die naam Nelson Mandelabaai-distrik. Jukskei is ‘n sport vir jonk en oud,” sê sy. Christa het ook drie susters wat die sport beoefen.

Christa Hansen. Foto: Verskaf
Christa Hansen. Foto: Verskaf

Susan Schoultz en Erika Gerber speel by Despatch, terwyl Leana Albertyn vir die Eden-distrik speel.

Dan is die Weyer-broers, Hilgard en Braam, ook nog betrokke by die klub. Hilgard se vrou, Anna, is ook een van die klub se spelers. Die Weyers-familie het oor baie jare al legendestatus in die sport in die OP gekry.

Christa sê haar ouers en die Weyerse se ouers was ook bedrewe jukskeispelers. Christa neem al jare lank aan die sport deel. “Ek was seker tussen 6 en 9 jaar toe ek begin het,” sê sy.

Morné Fourie is ‘n ander speler wat ook van kleins af jukskei speel en wie se ouers ook diep spore by die klub getrap het. Despatch het ook laas jaar ‘n suksesvolle ope dag gehad waar spanne van Oudtshoorn en Hartenbos kom speel het.

Despatch was ook die afgelope naweek (7 Februarie) in Beaufort-Wes in aksie waar vyf ander provinsies ook deelgeneem het.

Christa sê die klub is juis besig om sy ledetalle vanjaar te laat groei en daarom kan belangstellendes en skole haar op 074 441 7990 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article