Vier jeuglede van Despatch Voortrekkers is elk met ‘n gesogte Presidentverkenner-toekenning vir hul uitsonderlike kulturele leierskap bekroon.
Die graad 12 leerders wat dié nasionale vlak toekenning ontvang het is Dylan Erasmus, Genevieve van Dyk ( beide van Hoërskool Brandwag), Iliana Minnie (Hoërskool Despatch) en Lauren MacGorman (Teneo aanlynskool).
Dit word aan Voortrekkers toegeken nadat hulle ’n deurlopende proses van leierskapontwikkeling vanaf graad 8 tot 12 voltooi het. Daarby moet jeuglede ook ‘n goeie reputasie in hul skool, kerk en die Voortrekkerkommando handhaaf; sowel as jaarliks kampe bywoon en gespesialiseerde take en opdragte voltooi. Die hele proses word dan afgesluit met ‘n nasionale teoretiese eksamen in April en ‘n finale afrondingskamp in Julie.
Dylan Erasmus, Genevieve van Wyk, Iliana Minnie en Lauren MacGorman het die nasionale teoretiese eksamen met lof geslaag en die Presidentsverkennersproses suksesvol voltooi.
Hoërskool Brandwag en Hoërskool Despatch het ook aan hierdie leerders volle erekleure toegeken vir prestasies op kulturele vlak. Die Oos-Kaap Voortrekkers wens dié vier jeuglede sowel as hul families baie geluk met hierdie uitsondelike prestasie.
– SONJA BARRY





