DESPATCH – Daar blyk geen einde te wees aan die Coetzer-broer en suster van Despatch se spiesgooirekords nie.
Die afgelope naweek het hulle wéér so gemaak toe Zané van die Laerskool Sonop ‘n nuwe record van 31.47 meter by die distriktebyeenkoms opgestel het.
Zachary, van die Hoërskool Brandwag, was self die naweek op dreef toe hy die OP-hoërskole se sonebyeenkoms met ‘n rekordafstand van 49.03 meter gewen het.


Albei het reeds vanjaar ook ander rekordvertonings gelewer. Nóú is hul visier om albei voor die einde van die jaar onder Suid-Afrika se tien bestes in te skuif in hul onderskeie ouderdomsgroepe.
Hulle sukses is te danke aan harde werk, deursettingsvermoë en gereelde gymnasium-sessies. Hierdie vertonings dui op ‘n groot jaar as in ag geneem word dat die nuwe seisoen pas begin het.
Broer en suster mik albei daarna om in Maart aan die SA skolebyeenkoms deel te neem. Zach het verlede jaar 14de in Suid-Afrika geëindig en Zané 13de. Zach se mikpunt is om die einde van die jaar die 60m-merk te haal, terwyl Zané se mikpunt 37m is.
Albei besef dit gaan harde werk kos om dié afstande te behaal en daarom sit hulle tydens oefeninge álles in. Albei oefen drie keer per week op veld en drie keer in gimnasium .
Vir hulle is dit moeilik om meer te oefen omdat hulle ook ander sportverpligtinge het.
Vir broer en suster lê die Metro-byeenkoms nou voor voordat die Oos-Kaapse span aangewys sal word.




You must be logged in to post a comment.