232 Skoolkore van regoor Suid-Afrika, asook Namibië, het vanjaar ingeskryf vir die nasionale ATKV Applous Koor-kompetisie se Streekfeeste.
Drie van hierdie Streekfeeste is in die Oos-Kaap aangebied waar 22 kore opgetree het. In Uitenhage het sewe kore van Uitenhage, Despatch en Jeffreysbaai deelgeneem. In Port Elizabeth was daar nege deelnemende kore van die Baai, Cradock, Grahamstad en Humansdorp. En in Oos-Londen het ses skoolkore ingeskryf.
Elke koor moet ‘n program van 4 liedere aanbied, wat ’n voorgeskrewe werk insluit. Kore van Uitenhage het uitgeblink en hulle het almal goue sertifikate (80%+) ontvang.
Slegs kore wat ’n goue sertifikaat tydens ’n Streekfees ontvang het, word in ag geneem om te kwalifiseer vir ‘n spesiale uitnodiging na die ATKV Applous finaal. Goue sertifikate op Streeksvlak moet daarby “goud genoeg” wees alvorens ’n koor genooi word om in Bloemfontein se Sand Du Plessis-teater by die finaal op te tree.
Gesoute beoordelaars het kore van slegs 17 laerskole en 23 hoërskole (uit 232 kore) genooi na Bloemfontein.
Onder dié kore is Hoërskool Strelitzia se koor wat in die afdeling vir hoërskool meisies gaan optree.



