Al ooit ’n waarlike woema Kersvaderslee gesien?
Op 1 Desember om 18:00 is wanneer hierdie bloedrooi sportmodel-slee te sien sal wees by die amptelike opening van die feesseisoen voor die Despatch-stadsaal.
Kersvader sal sy sakke, hoed én baard styf moet vashou op dié rooi gevaarte wat die skepping is van Despatchers André van der Bank, Wouter Myburgh en Gert van der Bank.
Daarby kan Kersvader se bokkies ook maar gaan slaap, want perdekrag van ’n driewielmotorfiets (trike) gaan ingespan word om dié slee van die Waterwiel-ingang, deur die hoofstraat en tot by die stadsaal te trek.
Kersvader-posbus
Buiten Kersvader se blitsbesoek op sy rooi slee tydens die amptelike opening van die feesseisoen, sal daar ook ’n rooi Kers-posbus wees waarin kinders hul briefies met hulle versoeke vir Kerspersente kan pos.
Dié posbus is deur Hein Janse van Rensburg, ook ’n inwoner van Despatch, geskenk.
Belinda van der Bank, een van die organiseerders, sê dit is belangrik dat die kinders ook ’n telefoonnommer en adres in hulle briefies moet skryf.
“Danksy die gemeenskap se ondersteuning met die skenk van lekkergoed, kan Kersvader dié seisoen sowat 3 020 pakkies aan kinders in die gemeenskap uitdeel,” sê Belinda.
Kinders kan ook langs Kers-vader gekiek word. Ander aktiwiteite van die aand sluit in verskeidenheid stalletjies, uitstal-ling van veteraanmotors, driewielmotorfietse, ’n spring-kasteel, Buddy Bear, Huis Najaar Pannekoek-stalletjie, en die sing van Kersliedjies.
’n Hoogtepunt is die aanskakel van die dorp se feesliggies om 19:00 deur Retief Odendaal, die burgemeester van Nelson Mandelabaai.
“Hierdie is uit-en-uit ’n gemeenskapprojek en ons nooi almal van die dorp om saam te kom kuier.
“Mense is welkom om in die gees van die aand met ’n Kers- tema aan te trek en daar sal pryse wees vir die drie wat die beste lyk,” sê Belinda.
Lang storie kort, kom beleef die feestelikheid vanaand en ervaar eerstehands hoekom só baie mense sê Despatch is die dorp met die grootste gemeenskapshart.





