Estelle en Rochelle de Beer
Estelle en Rochelle de Beer.

DESPATCH – Estelle de Beer is nie net die ma van die Despatch-krieketklub nie, maar ook die amptelike tellinghouer én fotograaf.

Sy is ‘n unieke lid wat die manne bymekaar hou. Trouens, Estelle (48) is die hartklop van die klub.

Sy word boonop bygestaan deur haar dogter, Rochelle de Beer (27), wat ook haar ma se passie uitleef as tellinghouer en fotograaf.

Estelle is egter nie net Despatch se amptelike tellinghouer nie, maar haar vlak van gradering laat haar ook toe om telling te hou by die provinsiale spanne, die Sunrisers en die Dafabet Warriors.

Sy het ook die eer gehad om in Desember 2024 telling te hou vir die Proteas en Sri Lanka se vyfdagtoets op St. Georgepark.

Estelle is nou reeds 14 jaar deel van die klub en die afgelope nege jaar betrokke as tellinghouer.

“My meisiekind was eintlik die tellinghouer vir die eersteligaspan, maar wanneer sy besig was het ek uitgehelp in haar plek.

“Ek en my dogter het saam ons lineard scoring kursus geslaag. Ek het later die volgende vlak van gradering ook geslaag en kon van 2023 af groter provinsiale, nasionale én internasionale wedstryde doen,” sê sy.

Estelle en Rochelle de Beer
Estelle en Rochelle de Beer is geesdriftig oor hul betrokkenheid by Despatch-krieket. Foto: Verskaf

Estelle dien ook die afgelope vier jaar in die komitee van Despatch.

Op ‘n vraag of sy haarself leer telling hou het, sê Estelle: “Die basiese boek van tellinghou was redelik vinnig om te snap. En kon dus myself touwys maak, maar vir die nuwe standaard moes jy kursusse voltooi het en toetse slaag met ‘n gemiddeld van 80% om die gradering te kon bekom.”

Sy het ook haar fotografiekursusse in 2020/2021 by die PE Photography School onder leiding van Paul John Wright gedoen.

Hoe behartig sy die tellinghouery en die neem van foto’s?

“Op die oomblik is dit baie moeilik om dit te balanseer. Ek moet eerlik wees; die fotografie het ‘n bietjie op die agterste sitplek tyd gaan spandeer, want lineard scoring verg baie aandag en tyd.

“Maar ek sal altyd foto’s neem wanneer die geleentheid en tyd reg is,” sê sy.

Verder geniet sy elke oomblik van haar passie en sal graag so lank as moontlik betrokke wil wees by Despatch- en OP-krieket.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article