Despatchers het vanjaar hul eie opening van die feesseisoen as ‘n gemeenskapsprojek aangebied met die hoogtepunte ‘n besoek van Kersvader, die aanskakel van die dorp se Kersstraatligte en hul dorp se heel nuutste toevoeging, die Boom van Hoop.
Belinda van der Bank, een van die organiseerders van dié projek, is verheug oor die suksesvolle gebeurtenis.
“Die mense maak my mal op WhatsApp om te hoor of ons volgende jaar weer op 1 Desember só iets gaan aanbied. Beslis, maar ek dink sommer ook met Paasfees.”
“Ek het ‘n droom gehad van ‘n groot rooi Kersvader-posbus. Toe ek vir Frans (Swanepoel) daarvan vertel het, het hy geantwoord hy het dieselfde plan in gedagte.”
Die bloedrooi posbus waarin kinders hulle briefies vir Kersvader kon pos, het gesorg vir groot opwinding. Daar was ook ‘n Kersvader-sleë wat gemaak is deur die manne van die Road Runners veteraanmotorklub. Hulle het ‘n onderdeel van ‘n 1917 Model T in ‘n slee omskep waarin kinders kon klim vir fotosessies.
Nog ‘n lid van die gemeenskap, Gerhard Lotz, het sy Walliese ponies ingespan en Kersvader deur die dorp se hoofstraat na die feestelikheid in die tuin by Despatch Biblioteek en parkeerarea voor die munisipale kantore geneem.
“Kersvader het lekkers uitgedeel aan onder meer kinders van Oosterland Jeugsentrum. Die bejaardes van Despatch Dienssentrum het meer as ’n duisend lekkergoedpakkies verpak,” sê Van der Bank.
Daar was 23 stalletjies, waarvan meeste se produkte teen die einde van die aand uitverkoop was. Pastoor Jacques Killian het later die aand ‘n kort boodskap gelewer waarna ‘n minuut van stilte gehou is vir inwoners van die dorp of geliefdes wat die afgelope jaar gesterf het.
Terence Ellis het gesorg vir die Kersmusiek en saam met Wanda van Rooyen ‘n paar liedjies gesing voor die amptelike aanskakel van Despatch se Kersstraatligte.
“’n Groot dankie aan Frans Swanepoel, die manne van die munisipaliteit se elektriese afdeling en alle ander rolspelers van ons dorp vir hierdie suksesvolle projek. Ons gaan beslis weer volgende jaar so maak,” sê Van der Bank.





