Vier ‘goue susters’ van Despatch maak geskiedenis in jukskei


DESPATCH – Vier susters van Despatch se name is verewig in die annale van Suid-Afrikaanse jukskei.

Hulle is nie net as unieke viertal die enigste susters in die geskiedenis van die sport wat vir een provinsie speel nie, maar het ook in 2024 by die nasionale kampioenskappe op Kroonstad vir Nelson Mandelabaai as ‘n span saam gespeel.

Trouens, dié viertal susters is goud werd vir die sport in Suid-Afrika.

Erika Gerber (61, deesdae Jansenville), Leana Albertyn (54, deesdae Hartenbos), Christa Hansen (52, Despatch) en Susan Schoultz (50, deesdae Oos-Londen) kan steeds nie genoeg kry van die sport wat hulle van jongs af beoefen nie.

vier goue susters
Van links staan Leana Albertyn, Christa Hansen, Erika Gerber en Susan Schoultz. Foto: Verskaf

Christa spog met nasionale én meesterskleure, terwyl Susan sopas haar SA kleure gekry het.

“Ons speel al vandat ons tussen 9 en 15 jaar oud was,” sê Christa.

“Ons vier het in 2024 as ‘n span saam gespeel en vanjaar was ons drie susters in dieselfde span. Alles het vir ons op Despatch se bane begin toe my pa Izak Nell deur die destydse verkeershoof Wynand Deysel en die tesourier Jan Jooste genooi is om die familie baan toe te bring om saam te kom speel. So het my ma Evelyn ook ‘n liefde vir die spel begin ontwikkel.”

Sedertdien is al vier susters vasgegom aan jukskei.

“Dit is in ons bloed en bring ons nog nader aan mekaar. Ons wil ook nog sommer baie jare speel as dit die Vader se wil is,” sê sy.

Christa, Susan en Erika speel tans vir Nelson Mandelabaai, terwyl Leana vir die Eden-distrik speel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article