KARIEGA – Ruaan Oliphant van die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar was een van Suid-Afrika se groot uitblinkers wat die Afrika-titel vir o.15-bofbalspanne in Nairobi gewen het.
Hy het nie net deurgaans uitstekende kolfwerk gelewer nie, maar het ook op die gooiersplaat ‘n groot bydrae gelewer om die opposisie-kolwers in toom te hou.
Ruaan, wat vir die Red Sox-klub op Despatch speel, het groot lof van die OP se senior afrigter, Daniël Coetzer, ontvang.
“Ruaan is ‘n puik speler en ons is baie trots op sy vertoning in Nairobi. Hy is beslis iemand om dop te hou in die toekoms,” sê hy.
Suid-Afrika het die toernooi onoorwonne afgesluit en daarmee gekwalifiseer vir die Wêreldbeker-toernooi later vanjaar.

Uganda, Suid-Soedan en Kenia is die ander lande wat saam met Suid-Afrika sake om kwalifikasie uitgespook het.
Suid-Afrika het egter van die openingsdag af die voortou geneem en deur puik verdediging, kragtige kolfwerk en ‘n ervare afrigtingspan onder leiding van die hoofafrigter, Paul van de Merwe, die hele toernooi voor gebly.
Op die laaste dag van die kompetisie het Suid-Afrika twee oortuigende oorwinnings behaal om die titel te verseël.
In die oggendwedstryd het hulle Uganda met 6–0 geklop voordat hulle die toernooi afgesluit het met ‘n wegholsege van 20–1 oor die gasheerland, Kenia.






You must be logged in to post a comment.