Ná meer as ’n week van storms het die weer vandeesweek saamgespeel en die son het sy kop uitgesteek, maar nie voordat Kaapstad ordentlik deurgeloop het nie.

Só erg was die storm dat die Wes-Kaap deur die nasionale regering tot ’n rampgebied verklaar is. Meer as 100 000 mense is dakloos gelaat deur die storm en die Wes-Kaapse regering is besig om die skade te bepaal.

In verskeie gebiede in TygerBurger se verspreidingsgebied was daar verlede week oorstromings wat tot grootskaalse skade gely het. In Elsiesrivier het die dak van die Elsiesrivier-daghospitaal begin lek, wat daartoe gelei het dat dit gesluit moes word.

Verskeie strate in onder meer Bonteheuwel, Bishop Lavis en Eersterivier is ook só oorstroom dat water tot in mense se huise geloop het.

Misdaad

In Elsiesrivier en Uitsig het die oorstromings ook tot misdaad gelei toe bestuurders van voertuie, wat weens die reën vasgesit het, aangeval is.

’n Vragmotor van ’n groot skyfie-vervaardiger is deur inwoners van Uitsig geplunder.

KYK | Mense plunder vragmotor in Kaap wat weens stormweer vassit

In Blackheath het ’n man wat pas gehelp het om ’n gestrande motoris te help, in ’n kanaal geval en verdrink. Polisieduikers het die man se liggaam op die dag van die voorval uit die kanaal gehaal. In daardie stadium was hy steeds onbekend.

’n Familielid het egter die oorledene op Facebook as Jannie Mars van Wesbank geïdentifiseer. Serge Blankenberg het op sy Facebook-blad oor ’n berig van Netwerk24 soos volg kommentaar gelewer. “Jannie Mars is sy naam. Ek verstaan dat die koerant nie my oom se naam geken het voor die berig geplaas is nie, maar sy naam is Jannie Mars. Ek dink hy verdien dat sy naam genoem word.”

TygerBurger, wat ook vroeër aanlyn oor Mars se verdrinking berig het, het intussen met Mars se vrou, Regina, oor haar man se tragiese sterfte gepraat. Sien berig elders in koerant.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article