Moet asseblief nie fopnuus oor oorstromings versprei nie.
Dit is die pleidooi van die plaaslike raadslid vir Bonteheuwel, Angus McKenzie, nadat “ou foto’s” van oorstromings aanlyn opgeduik het. “Van die foto’s wat geplaas is, is jare gelede geneem en dit is duidelik dat sommige mense politieke punte wil aanteken deur verkeerde inligting te deel. Ons tref voorsorg en maak seker dat as daar ‘n probleem is, dit gou opgelos word,” sê McKenzie.
Die Wes-Kaap is die afgelope naweek deur twee kouefronte getref wat in sommige gedeeltes tot grootskaalse oorstromings gelei het. Hierdie oorstromings het tot skade aan eiendom en verkeersprobleme gelei.
In Bonteheuwel, Bishop Lavis, Elsiesrivier en Eersterivier is minimale ontwrigting aangemeld, maar inwoners in Silversands het aangemeld dat dreine oorspoel het vanweë die reën.
Isaac Stevens, ‘n inwoner van Hockenheim-weg in Silversands, sê dit was moeilik vir hom en sy bure om by hul opritte in te kom weens al die water. “Hierdie is egter nie ‘n nuwe probleem nie, want elke jaar gebeur dieselfde ding. Ons sukkel met riool wat in strate loop en wanneer dit reën, word die probleem aansienlik groter,” sê hy.
Daar is ‘n laer- en hoërskool in Hockenheim-weg en leerders moes vanoggend (Maandag) sukkel om by die skole uit te kom. Met TygerBurger se besoek aan Hockenheim-weg was personeel van die Stad Kaapstad besig met opruiming.
READ ALSO: Cape Town battered by weekend storms as flooding hits Dunoon hard





