Die Suidoosterfees, wat van 29 April tot 3 Mei in Kaapstad aangebied word, bied weereens ‘n musikale hutspot van stemme en style.
Die fees brei vanjaar verder uit as die Kunstekaap, die tradisionele middelpunt van aktiwiteite met jazzmusiekproduksies wat vanjaar ook in die Kaapstad-burgersentrum in die “oorkant die pad”-reeks aangebied word.
Keur van konserte
Die Suidoosterfees open jaarliks met die Konsert van hoop, aangebied in samewerking met die Nasionale Jeugmusiekstigting, Kaapstad se Filharmoniese Jeugorkes en Kaapstad Opera.
Dié konsert bring hulde aan jong uitnemendheid en die krag van musiek om mense te verenig. Lee-Ann van Rooi is die seremoniemeester. Die konsert word in die Kunstekaap-operahuis met gevestigde kunstenaars en jong sterre aangebied.
Nog konserte staan uit op die program. Nataniël is terug met Händel en die donkie, waarin musiek en stories op slim maniere paaie kruis. Hy besin oor die heilsaamheid daarvan om mense aandagtig dop te hou en ook oor seerkry. Die pianis Charl du Plessis en ‘n uitmuntende strykkwartet is saam met Nataniël op die verhoog.

In Stille Vuur skep Frieda van den Heever, Coenie de Villiers en Mauritz Lotz ‘n klankwêreld waar nuwe komposisies en herverbeelde gunstelinge die hart tref. Deon Meyer sluit as gasverteller aan met nuwe werk uit sy pen.
Stormsterk en jazz
Suidooster Stormsterk bring die glans van die gewilde kykNET-sepie Suidooster vir die vyfde keer na die fees. Dean Smith, Jawaahier Petersen, Craig Adriaanse, Irvine van der Merwe, Lauren Joseph en talle ander verruil die drama op die sepiestel vir die verhoog.
Suidoosterfees Boogie is vanjaar groter, vrypostiger en meer as gereed om die dak te lig.
Feesgangers word op ‘n nostalgiese reis deur treffers uit die 70’s en 80’s geneem. Daar is ook ‘n lekker skeut moderne gunstelinge en skaterlag-komedie.
Jazz is die fokus in twee uitsonderlike konserte. In Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective kom plaaslike en wêreldmusiek bymekaar in meesleurende stories, verkwiklike ritmes en improvisasie.


The Echoes of the Cape Doctor: Remembering Robbie Jansen is ‘n aangrypende huldeblyk aan een van die Kaap se groot jazzmusikante.
Duncan Johnson lei ‘n indrukwekkende ensemble met Ramon Alexander, Nazeem Brown, Muneeb Hermans, Carlo Fabe en Chadleigh Gouwer. Hulle herbesoek Jansen se tydlose komposisies en sy blywende invloed op die siel van Kaapstad.
Koorklanke
Die ATKV, een van die fees se hoofborge, bring weer konserte wat die fees se ontwikkelingsgees vier.
Die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie word vanjaar 20 en kore van oor die Wes-Kaap heen kom skitter op die verhoog.
Stephanie Baartman is die seremoniemeester van die ATKV-Koorgala. Feesgangers kan nader skuif vir roerende uitvoerings deur Lynelle Kenned, die Lyrikos-jeugkoor en wenners van die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie.
Baartman skitter ook in Hoort – ’n semi-outobiografiese kabaret wat jou laat lag, huil en met nuwe oë na jou eie storie kyk. Met Janine Neethling op klavier en die teks deur Baartman en Johann Slabbert, beweeg die vertelling tussen koortjies, ghoema, jazz en oorspronklike Afrikaanse komposisies.
Letterkunde en note
Musiek wat met letterkunde skakel, bring ’n besondere dimensie na die feesprogram. In die siel van Eugène Marais neem Daniel Anderson en Paul Ferreira ‘n dramatiese reis deur die innerlike wêreld van een van Suid-Afrika se mees komplekse literêre figure.
Wat om te doen as die wêreld brand geskryf deur Bibi Slippers is ’n kabaret met Elzabé Zietsman en die pianis Jody Jason Petersen op die verhoog. Zietsman vertolk die rol van ’n engel-orakel-demi-godin wat die kliëntedienssentrum van die kosmos probeer bestuur terwyl die wêreld om haar brand.
In Hettema ontbloot: digters, divas en ’n titsel Parys lê Helena Hettema haar kuns en haar siel in ’n betowerende verhoogervaring bloot met poësie, musiek en teater. Met voordragte uit haar bekroonde debuutbundel, Journeyman, skerp sosiale kommentaar en huldeblyke aan ikoniese digters en tydlose divas, word die gehoor op ’n emosionele reis geneem waar Afrikaans, Engels en die gees van Parys (in Frankryk) mekaar vind.
Kabaret en klassiek
Pieter-Dirk Uys bring sy legendariese Bambi in kabaret na die fees met Bambi Kellermann, Evita Bezuidenhoud se omstrede suster aan die woord.
Amanda Strydom se The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder is ’n storie van hoop, wonderlike avonture, selfontdekking en tuiskoms. Coenraad Rall begelei Miss Mandy, en feesgangers sal sterk aanklank vind by die kernvraag van die stuk: “Life is a journey, wie is djy nou om die transport te question?”
Klassiekemusiek-liefhebbers word ook nie afgeskeep nie. In Vivaldi en die vondeling gee Lynelle Kenned, Mario Nell en Veronica Bell die lewensverhaal van Anna Maria della Pietà lewe. Sy is as baba voor ’n klooster gelos, maar het onder Vivaldi se leiding in ’n gevierde violis ontwikkel.
Magnifico is ’n viering van uitnemende stemme en virtuose musici. Magdalene Minnaar, Sima Mashazi en Timothy Moloi laat klassieke gunstelinge en tydlose meesterwerke in ryk, kontemporêre klanklandskappe ontvou.
Orfeo ed Euridice stel die groot vraag: Kan liefde en musiek die verloop van die noodlot verander? Dis ’n pragtige opera-ervaring wat die hartsnare tokkel.
Besoek suidoosterfees.com vir die volledige program.
Kaartjies is slegs aanlyn by Webtickets beskikbaar.
WEN! WEN! WEN!
Wen een van vyf stelle (van twee) dubbelkaartjies per dag (van 1 -3 Mei) om twee geselekteerde musiekvertonings by die Kaapstad-burgersentrum tydens die Suidoosterfees te sien. Skryf in vir die dag wat jy verkies:
- Vrydag 1 Mei: Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective om 18:30 en Oorkant die Pad: Bheki Khoza om 21:00.
- Saterdag 2 Mei: Hettema ontbloot: digters, divas en ’n titsel Parys om 18:30 en Oorkant die Pad: Ramon Alexander om 21:00.
- Sondag 3 Mei: Magnifico om 11:00 en The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder om 16:30.
Hierdie kompetisie is nou gesluit.






You must be logged in to post a comment.