Die Welgemoed-kunstefees, die enigste fees van sy soort in Kaapstad se noordelike voorstede, keer van 12 tot 22 September vir die vyfde keer terug. Die fees wat deur die NG kerk Welgemoed aangebied word, bring inwoners en besoekers bymekaar om die kunste te geniet en terselfdertyd plaaslike liefdadigheidsorganisasies te ondersteun.
Met teater, musiek, kuns, kos, boeke en meer is daar iets vir almal, jonk en oud. Die opbrengste gaan aan organisasies soos Ramot, Badisa, die Jan Krielskool, Alta du Toit-sentrum, Huis Jabes, Magdalena-huis, MES, Living Network, die Paarl-skool en die Durbanville-kinderhuis.
Die meeste geleenthede vind by die kerk in Diazstraat plaas, waar ‘n feeskafee met heerlike baristakoffie en lekkernye asook kuns deur plaaslike kunstenaars gaan wees.
Boeke en kuier
Die fees open op Saterdag 12 September met Boek en Koek, ‘n oggend van stories en gesprekke met die digter Antjie Krog, die skrywer Marita van der Vyver en die skrywer en TV-vervaardiger Erns Grundling.
Krog gaan uit haar kleuterverseboek Spienekelienkies voorlees, terwyl Van der Vyver, wat spesiaal uit Frankryk reis en in Welgemoed grootgeword het, oor haar boek My jaar van vrees en vryheid sal gesels. Kaartjies kos R180 of R80 net vir die praatjie.



Daarna lei Grundling ‘n gratis 3 km Camino-stap deur Welgemoed se inheemse plantegroei vanaf Sluysken Park om 14:00, gevolg deur ‘n potjiekoskompetisie om 16:00 wat Grundling en sy gesin gaan beoordeel. Die R240-kaartjie sluit ‘n potjiekos-ete en Grundling se praatjie oor sy reise en pelgrimstogte in.
Verskeie skrywers gaan in die feeskafee kom klets. Isabella Niehaus praat op Dinsdag 15 September oor haar boek Bella’s Kitchen en Elsa Winckler bied op Vrydag 18 September ‘n gratis skryfwerksessie aan. Rachelle Fourie, ‘n finalis op die TV-program Op my eish, gaan op Maandag 21 September oor haar boek My hart klop so gesels.
Musiek
Op Donderdag 17 September deel Francois van Coke, Die Heuwels Fantasties en Hanna de Wet die verhoog met die Laerskool Welgemoed-seniorkoor in ‘n musiekaand wat bekende kunstenaars en jong plaaslike talent byeenbring. Kaartjies kos R160.
Die fees se gratis konsert op Sondag 20 September spog met Amira Willighagen, wat op nege-jarige ouderdom Holland’s Got Talent gewen het. Die DF Akademie se koor wat onlangs as Suid-Afrika se beste gemengde koor by die nasionale ATKV-Applous-kompetisie bekroon is en Jade Paige tree ook op.
Op Dinsdag 22 September sluit die mezzosopraan Jacobi de Villiers die fees met Poskaarte uit Parys, ‘n musikale reis deur die agterstrate van Parys met Franse chansons en liefdesverhale, af. Die R280-kaartjie sluit ‘n kaasbord en ‘n glas wyn in.
Teater en gesprekke
Die teaterprogram sluit Aanskou die mens in op Sondag 13 September waar die orrelis Winand Grundling op die orrel improviseer oor groot nuusgebeure soos die maanlanding en die Covid-19-pandemie, terwyl Johann Nel die destydse brekende nuus voorlees. Die teks is deur Erns Grundling geskryf. Kaartjies kos R150.
Op Saterdag 19 September bring Wilhelm van der Walt die bekroonde eenmanvertoning Seun na Welgemoed. Die stuk is op Dana Snyman se memoires van die 1980’s gegrond. Kaartjies kos R200.

Verskeie gratis paneelbesprekings belig sake soos dermatologie met die kenner dr. Willie Visser (14 September), aftrede (16 September), stedelike natuur (17 September) en egskeiding (21 September). Prof. Thinus Kruger, ‘n wêreldkenner op die gebied van infertiliteit en Welgemoed-inwoner, praat op Donderdag 17 September oor die nuutste in fertiliteitsbehandeling.
Chris Marnewick, oudregsgeleerde wat spesiaal uit Nieu-Seeland kom, praat op Maandag 14 September oor sy boek oor die Oscar Pistorius-hofsaak. ‘n Rugbypaneel gelei deur Kobus Wiese en met die oud-Springbokkaptein Divan Serfontein, Danie Gerber en Hennie Bekker bespreek die 1981-meelbomtoer in Nieu-Seeland op Woensdag 16 September (R50).
Kuns en kinders
Kunswerke van plaaslike kunstenaars word tydens die fees uitgestal en verkoop. Kunsklasse in linodrukwerk (R250) en Matisse-geïnspireerde kuns (R450) word aangebied.
Die Kinderfees op Saterdag 19 September by die Laerskool Welgemoed bied kinderteater, ‘n kermis met kermisspeletjies, gesigverf en entrepreneurstalletjies, bloudruk-kunswerke en ‘n kreatiewe sessie met die Jorsie die Worsie-reeks van Helene Booyens.
Kaartjies en meer inligting is beskikbaar by Webtickets.co.za
LEES OOK: 12 Soloists to perform at 55th Youth Classical Concert at Artscape






You must be logged in to post a comment.