Vuil spuitnaalde en tiklollies wat verlede week deur inwoners om die gewilde De Oude Spruitdam in Brackenfell opgetel is, wek groot kommer in `n gemeenskap wie se kaalvoetkinders in die park speel.
Dié kwessie, sê inwoners, kom al jare aan met die eerste naalde wat al drie jaar terug ontdek is. Inwoners vermoed dat `n man wat in `n nabye straat woon nie net dwelms daar gebruik nie, maar ook verkoop.
Nadat `n klagte by die Brackenfell-polisie aangemeld is, is verskeie klopjagte op die betrokke huis uitgevoer, maar kon die polisie niks vind nie.
“Dis nie die eerste keer dat ons spuitnaalde in die gras kry nie, en ons is bevrees dat dit ook nie die laaste keer sal wees nie. Ons het ook al verskeie kere mense gesien wat in Populierstraat duskant die dam parkeer om dwelmtransaksies te doen, en het selfs al foto’s hiervan op die verskeie veiligheidsgroepe geplaas,” sê een inwoner wat nie haar naam genoem wil hê nie.
Volgens verskrikte kinders wat gereeld by die dam speel, het die verdagte hulle ook al genader en gevra of hulle dwelms wil koop. Inwoners sê daar is ook al gesien hoe die man pakkies in die bome wegsteek.
“Bekommerde ouers voel hulpeloos, en wil nie hê hul kinders moet in die park speel nie. Ons het ook al die Stad se wetstoepassers gebel, en weet nie meer wat om te doen nie.”
Gereelde patrollies help nie
By medianavraag oor die kwessie sê Johann Loods, die wykraadslid vir Wyk 8, dat metropolisiebeamptes gereeld patrollies oor Wyk 8 heen en onder meer in De Oude Spruit-park uitvoer.
“Ongelukkig het die Stad se metropolisiebeamptes nie ondersoekmagte nie, daarom sal dit samewerking met die polisie noodsaak. Die DA-geleide raad beoog om beheer oor ondersoek- en intelligensiefunksies te verkry om vervolgingsyfers te verbeter, met verwysing na ‘n afname van 15% in aktiewe polisiebeamptes,” sê hy.
Desperate inwoners wat nie gelukkig met dié terugvoering nie, het nou voorgestel dat private veiligheidswagte by die dam aangestel word. Maar inwoners sal daarvoor moet opdok. So nie, voel die meerderheid inwoners wat naaste om die dam bly, dat owerhede `n veiligheidsheining, soos by ander parke in Brackenfell, om die park moet oprig wat snags gesluit word.
“Toegang tot die park moet dan ook net verkry word deur middel van sleutelkaarte wat deur inwoners aangekoop word,” sê een inwoner.” Geld wat vir `n ander projek [netbalbane] by die park gebruik sou word, kan sekerlik nou aangewend word vir `n heining, sê een inwoner. “Dit sal dalk nie die probleem heeltemal oplos nie, maar veiligheid beslis verbeter.”
Ander inwoners het egter hul misnoeë hieroor uitgespreek. “So ‘n stelsel sal ander mense uit omliggende gebiede verhoed om die park te besoek.”
Nietemin kan die geld vir die vorige projek by die dam volgens Loods nie in dié stadium vir `n heining gebruik word nie. “Aangesien die vorige projek `n spesifieke [omvang] en kontrakteur gehad het, kan die geld ongelukkig nie net vir iets anders gebruik word nie. Dit kan moontlik ook beteken dat die geld nie genoeg sou wees vir `n heining nie. Met toekomstige wykstoelaag-deelname en beplanning sal dit wel oorweeg kan word om na so iets te kyk by die parkie,” het hy die week aan TygerBurger gesê.





