Volskaalse reddings operasie red Brackenfell man se lewe

Die wrak van die voertuig nadat dit verlede week by die R300-afrit afgerol het.

Credit: SYSTEM

’n Volskaalse reddingsoperasie deur die Stad Kaapstad se brand- en reddingspersoneel ná ’n ernstige ongeluk op die R300/N1-afrit het die lewe van ’n 33-jarige man van Brackenfell gered.

Die ongeluk het verlede Dinsdag omstreeks 21:00 plaasgevind toe die voertuig op die draai van die afrit in die rigting van Kaapstad verskeie kere teen die hoë wal afgerol het.

LEES | Man ernstig beseer toe sy kar by R300 afrit afrol

Lede van die Bellville- en Kuilsrivier-brandweerstasies is uitgestuur, asook die metro-ambulansdiens.

“Die bestuurder was in ’n ernstige toestand in sy voertuig vasgepen. Reddingsgereedskap, wat meganiese kake insluit, is gebruik om die beseerde te bevry. Aangesien die voertuig ’n ent teen die wal afgerol het, is reddingsingenieurs van die Bellville-brandweerstasie uitgestuur. Terwyl paramedici besig was om die pasiënt te stabiliseer, is ’n tou-redding uitgevoer en die pasiënt is teen die wal opgehys, waar ER24 die man, wat in ’n kritieke toestand was, na die Tygerberg-hospitaal vervoer het,” het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, verlede week aan TygerBurger gesê.

Die man is tans nog in ’n ernstige toestand in die hospitaal.

“As gevolg van breinswelling is hy in ’n geïnduseerde koma geplaas. Hy het twee ribbes gebreek en ’n fraktuur in sy heupbeen opgedoen. Hy het al twee breinskanderings ondergaan, wat nie breinbeserings getoon het nie. Ons is dankbaar dat hy nog lewe,” sê ’n vriend van die familie.

Plaaslike owerhede was op die toneel vir bystand en verdere ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article