’n Vragmotor-ongeluk Maandagoggend op die N1-snelweg het verkeer byna tot stilstand gedwing.
Die verkeer moes herlei word nadat ’n vragmotorbestuur glo beheer oor sy voertuig verloor en dit omgeslaan het.
Iegshaan Dyson, ’n lid van die Stad Kaapstad se verkeersdienste, het bevestig dat geen beserings aangemeld is nie.
Volgens hom het die vragmotor, wat teëls en graniet vervoer het, in die rigting van Kaapstad op die N1 gery toe die bestuurder glo beheer daaroor verloor het, dit deur die middelman geploeg en in die baan vir aankomende verkeer beland het.
“Daar was geen ander voertuie op die pad nie,” het Dyson gesê.
Die verkeer uitgaande is via die Plattekloofweg-afrit/McIntyre-weg en Monte Vista Boulevard herlei.
Die ongeluk het omstreeks 05:30 gebeur en teen 10:00 was die pad steeds gesluit.
Net die regter- en middelbaan uitgaande was vir verkeer oopgestel, maar die verkeer was steeds tot by die afdraai na die N1 Stad-winkelsentrum opgedam, sê Dyson.
Die pad is eers om 11:30 heeltemal heropen.
Die vragmotorbestuurder was alleen in die voertuig.
Die Stad se verkeersdiens, wetstoepassing, brandweerdiens en die provinsiale hoofweg-verkeersafdeling was op die toneel.
’n Insleep-vragmotor is gebruik om die wrak te verwyder.
Dyson sê ’n tweede vragmotor het ook sy vrag op die Plattekloofweg-afrit verloor, en dat hier ook geen beserings aangemeld is nie.




