Die span van Kaapse Kansel 729AM is Donderdag saam met die kinders by die Paarlskool. FOTO: Desirée Rorke


As deel van sy 10de verjaarsdagvieringe op 1 Desember en ’n manier om terug te ploeg in die gemeenskap, het die radiostasie Kaapse Kansel 729AM die Paarlskool vir neuraal gestremde kinders op 1 Desember besoek.

Tydens die uitreik, in samewerking met die Paarlskool-ontwikkelingstigting, is geskenke uitgedeel en worsbroodjies gebraai terwyl die span tyd saam met die kinders spandeer het.

“Luisteraars het kom kuier van reg oor die hele Wes-Kaap en musiek deur ons kunstenaars uit eie bodem het bygedra tot die vreugde van die dag,” sê die programbestuurder, Wanda Bam.

Skenkings van Spar Tyger Manor en Next Move Property Group is ook aan die skool oorhandig.

Ná ’n ses jaar lange afwesigheid van die lug is die klankgolwe van die stasie op 1 Desember 2012 weer aangeskakel.

Destyds bekend as Radio Kansel, het Okasa die stasie vir geen rede aan die einde van 2007 van die Radio 2000-sender afgehaal.

Kaapse Kansel

“Die frekwensie van Punt Radio, wat voorheen op 729 uitgesaai het, het ná die sluiting van die stasie vir jare in onbruik gestaan. Ná jare se aansoeke. wat later in die hooggeregshof beland het, het dr. Roelf Peterson, destydse besturende direkteur van die Kansel Mediagroep, hierdie uitgerekte proses gedryf, waarna Kaapse Kansel se lisensie toe uiteindelik op 18 Julie uitgereik is,” sê Kosie Burger, huidige operasionele bestuurder van Kaapse Kansel.

“In die meer as vyf jaar wat ons van die lug af was, het ons donateurs en adverteerders in die Wes-Kaap, met die verwagting dat ons wel ons lisensie sal kry, ons nooit ophou ondersteun nie. Nou is dit 10 jaar later en ons kyk nie terug nie,” sê hy.

Die laaste dekade op die lug het die stasie baie vreugdes en laagtepunte beleef.

Laagtepunte

Die grootste laagtepunt, sê Burger, was toe die sender uitgebrand het en die stasie twee weke van die lug af was.

“Ons het deurlopend die hand van God gesien werk op plekke waar ons nie meer geweet het (wat om te doen) nie,” sê hy.

’n Hoogtepunt was die stasie se groenteprojek tydens die pandemie.

“In ’n tydperk waarin baie mense finansiële verwoesting in die gesig gestaar het, het God ons in staat gestel het om groente op ’n weeklikse basis danksy ’n anonieme verskaffer aan verskeie organisasies te lewer. Om die gesigte van kinders en bejaardes te sien verhelder na ’n warm bak groentesop, is van onskatbare waarde. ’n Sleutelwaarde by ons is dat ons as ’n Christelike Radiostasie ons getuienis só sal uitleef dat ons dade harder sal getuig as bloot net ons woorde oor die radiogolwe.”

Sedert die begin van die projek drie jaar gelede is daar reeds 164 vragte groente ter waarde van meer as R600 000 afgelewer.

“Ons fokus oor die afgelope 10 jaar was om kleiner, volhoubare projekte aan te pak waarby verskeie gemeenskappe binne ons uitsaaigebied kan baatvind. As ’n relatief jong stasie met ’n klein personeelkorps en ’n groot uitsaaigebied is dit die sukses agter die dryf van gemeenskapsprojekte en kreatiewe beplanning. Ons projekte het ons nie net as ’n gerekende stasie sigbaar gemaak nie, maar ons kon ’n rotsvaste boodskap van hoop, integriteit en vreugde na gemeenskappe bring.”

Burger sê dis juis dié projekte wat hul harte warm laat klop.

“Dit bring vir ons groot vreugde om nie net gehoor te word op die luggolwe nie, maar ook met gemeenskappe hande te vat en ’n ál meer groeiende luisteraarstal te bedien.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article