Die afgelope naweek se Cape Model & Toy Club Collectors Toy Fair in Edgemead is goed bygewoon, ondanks die reënweer Saterdag. Die geleentheid is Saterdag tussen 09:00 en 14:00 by die Edgemead-gemeenskapsaal gehou.
Chris Lourens, mede-organiseerder, sê altesaam 497 besoekers het die geleentheid bygewoon.
Uitstallings
“Alhoewel dit ‘n bietjie reënerig was, was die opkoms en ondersteuning goed. Uitstallings het meestal uit modeltreine, produkte om uitlegte of diagrama te bou en spoorweg-versamelitems bestaan.
“Daar was ook baie kleinskaal-motors, soos Matchbox en Hot Wheels, en versamelings van ou modelle. Modelle van miniatuur vegvliegtuie en ou weermagvoertuie wat te koop was en uitgestal is, het ook baie belangstelling gelok,” sê Lourens.

Kans om te spog
Lourens sê die geleentheid was ook ‘n lekker bymekaarkomplek vir versamelaars om net om ‘n tafel met ‘n koppie koffie en ‘n hamburger met mekaar te gesêls, idees uit te ruil en met foto’s van hul treinuitlegte te spog.
Die volgende Collectors Toy Fair vind op 5 Desember by die Bothasig-gemeenskapsaal in Linkweg, Bothasig plaas.





You must be logged in to post a comment.