‘n Inwoner van Goodwood in Kaapstad het pas ‘n boek uitgereik wat sy jare in die departement van korrektiewe dienste (DKD) as tronkbewaarder by onder meer die Pollsmoor- en Goodwood-gevangenis vertel.
Andries Huisamen (64) het aan TygerBurger vertel dat hy al lank reeds aan die boek werk, en dat dit gebaseer is op sy jare in die weermag, sowel as die departement en dat hy nou verheug is dat dit uiteindelik verwesenlik is.
Die boek, Voor en Agter Tralies, ‘n Memoire uit die hart van ‘n bewaarder is Maandag 12 Oktober by die Edgemead-rolbalklub, waar Huisamen ‘n lid is, bekendgestel. Die geleentheid is deur vriende, familie en oud-kollegas van hom bygewoon.
Beroertes
Huisamen het in 2022 uit die diens getree ná 40 jaar as tronkbewaarder.
Anita Huisamen, sy vrou, sê Huisamen het aan die begin van die jaar twee beroertes gehad. Volgens haar wou hy al lank reeds die boek skryf en laat publiseer en het hy ná sy beroerte finaal besluit om sy herinneringe oor die jare heen neer te pen.
Die boek, volgens haar, is ‘n jarelange droom van haar man.
“Ná sy beroerte kon hy nie lees, skryf, loop of praat nie. Hy kon ook nie sluk nie,” sê sy. Hy doen nou beter, voeg sy by. “Nou, speel hy rolbal, loop rond met die hond en ry hy selfs kort afstande.” Voor sy beroerte het Huisamen aan die Comrades-ultramarathon deelgeneem, het hy die swemtog vanaf Robbeneiland na Blouberg voltooi en het hy ook reeds aan die Midmar-myl deelgeneem.

Boek
Sy meen Huisamen, wat in Maitland grootgeword het, was vasberade om sy boek te voltooi.
“Andries het altyd die begeerte gehad om ‘n boek te skryf, maar nadat hy twee beroertes op 3 Maart gehad het, het hy besluit dis nou of nooit. Alhoewel hy nie kon skryf nie aangesien sy regterkant aangetas was, het hy besluit om dit op WhatsApp vir my te stuur. Ek het dit daarvandaan op ‘n Word-dokument omgeskakel en so het die boek lewe gekry,” sê sy vrou.
Voor en Agter Tralies, ‘n Memoire uit die hart van ‘n bewaarder word deur Lavender Moon-uitgewers gedruk.
Huisamen was 19-jaar-oud toe hy by die weermag moes aanmeld vir diensplig, en dis waar sy verhaal begin.
“Die boek is einlik jare al aan die gang. Ek kon net nooit tot die punt kom om dit te skryf nie, en het nooit drastiese stappe geneem om dit klaar te maak nie. Maar ná my beroerte, terwyl ek so in die bed gelê het, het ek besluit om dit uiteindelik te doen. Ek het daar gelê en dink ek sal nie weer kan praat of stap nie,” sê hy.
Hy het ná sy beroerte fisieke rehabilitasie en behandeling by Nurture Cape View-hospitaal in Kaapstad ontvang. Huisamen sê hy besoek nog gereeld dié hospitaal waar hy ander, wat ook beroertes ervaar het, bemoedig. “Ek gaan nie meer vir behandeling nie, maar gaan stap daar rond en sê vir ander waar ek was en dat hulle ook daardeur kan kom. Ek is baie dankbaar.”

Tweede boek
Hy sê hoewel die boek nou finaal uit is, daar steeds soveel ander herinneringe is wat hy ook in boekvorm wil laat neerpen, wat nie in dié boek opgeneem is nie.
Huisamen het op 6 Januarie 1982 by DKD aangesluit. “Eers was ek in Kroonstad, toe Windhoek toe, en daarna het ek na Polssmoor gegaan en aan die einde by Goodwood-gevangenis gaan werk.”
“Daar is nog baie om oor te skryf, en dit sal lekker wees as van die bewaarders in die volgende een van hul komiese en ernstige stories kan deel,” sê hy.
Hy sê die bekenstelling Maandag was bitter lekker. “In ‘n stadium het ons gedink niemand gaan opgdaag nie, maar toe daag van ons familie, vriende en van my oud-kollegas op,” sê Huisamen.
“Soos wat dit met enige skrywer gaan, was hy verskriklik senuweeagtig oor hoe die boek ontvang gaan word, maar is bly dit het goed gegaan,” sê sy vrou.
LEES OOK: Voormalige Wes-Kaapse polisiekommissaris Lennit Max stel sy outobiografie bekend





You must be logged in to post a comment.