Meer ernstige gevalle van roof en diefstal vanuit voertuie in Kuilsrivier wys jongste misdaadsyfers

Photo of Crime Scene banner
Die misdaadsyfers vir die laaste drie maande van 2025 is onlangs bekend gemaak.

Die polisie se jongste misdaadsyfers vir die derde kwartaal van Oktober tot Desember 2025, wat onlangs bekendgemaak is, toon geen groot verandering van die norm in Kuilsrivier nie.

Altesaam 338 sake van kontakmisdaad, wat moord, poging tot moord, seksuele oortredings, aanrandings en roof insluit, is in dié tydperk by die Kuilsrivier-polisie aangemeld.

Nege moorde is plaaslik geregistreer — een meer as in die ooreenstemmende kwartaal in 2024, terwyl daar vyf minder pogings tot moord (21) aangeteken is.

Minder gewone aanrandings (132 teenoor 150) is aangemeld. Die 139 gevalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer, was egter een meer as ‘n jaar tevore.

Gewone roof (36 teenoor 26) en ernstige gevalle van roof (79 teenoor 66) het ook toegeneem. Altesaam 16 verkragtings is aangeteken.

Daar is sewe rooftogte by wonings (een meer) en vier (een minder) by nie-residensiële persele aangeteken.

In Kuilsrivier is agt voertuigkapings geregistreer teenoor vyf ‘n jaar tevore. Geen vragmotorkapings is aangemeld nie.

Soos in 2024, is daar in die laaste drie maande van die jaar twee ontvoerings plaaslik aangeteken.

Beskadiging van eiendom

Soos in die ooreenstemmende kwartaal in 2024 was daar drie gevalle van brandstigting. Tien meer gevalle van kwaadwillige beskadiging van eiendom (93) is egter aangemeld.

Inbrake by nie-residensiële eiendomme (21) was drie gevalle minder. Die 71 huisbrake wat aangeteken is, was die laagste vir die ooreenstemmende kwartaal in die laaste vyf jaar. In 2023 was daar in die ooreenstemmende kwartaal 109 huisbrake en in 2024 is 75 aangeteken.

Hoewel daar minder motors en motorfietse in Kuilsrivier gesteel is (16 teenoor 22), het diefstal vanuit voertuie toegeneem, met 91 sake wat geregistreer is — die meeste vir die kwartaal in vyf jaar.

thief breaking into a car Photo: Pixabay
Diefstal vanuit voertuie het toegeneem.

Handelsmisdaad, wat bedrog en vervalsing insluit, het ‘n effense daling getoon met 148 sake teenoor 155 ‘n jaar tevore.

Dit is steeds aansienlik meer as die 119 sake wat in dieselfde kwartaal in 2023 aangeteken is.

Polisie-optrede

Op ‘n positiewe noot was die sake wat plaaslik geregistreer is danksy polisie-optrede (247) meer as in die ooreenstemmende tydperk in 2024 (225). Daar is 191 dwelmverwante sake (teenoor 162 in 2024) aangeteken.

Die vyf sake wat aangeteken is van die onwettige besit van ‘n vuurwapen of ammunisie was heelwat minder (11 in 2024).

Die aantal sake wat aangeteken is vir bestuur onder die invloed (51) was soortgelyk as in 2024 (52).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article