In plaas daarvan om haar oorlede seun se 21ste lewensjaar te geniet, moet ’n ma van Bellville saamleef met mense wat sy herdenkingkruis van ’n boom afgeruk en verwoes het.
Die oortreder(s) het boonop haar seun se geliefde vriend se kruis, wat op dieselfde boom aangebring is, ook verwoes.
Helen Coetzee, die ma van Chris Coetzee sê dit is nie die eerste keer dat iemand die kruise gevandaliseer het nie, maar dit is die eerste keer dat hulle so onherstelbaar uitmekaar geruk is.
Die TygerBurger het in 2018 berig hoe Chris (16) sy lewe verloor het toe ’n bestuurder in hom vasgery het.
Chris was ’n kranige skaatsplankryer en hy en drie van sy vriende het naby die kruising van Bill Bezuidenhout-rylaan en Jessestraat in Oakdale gery toe die ongeluk plaasgevind het.
Inwoners en sy vriende was in rou gedompel en sy familie het ’n kruis aangebring op die hoek van die strate.
’n Onbekende persoon het ook ’n kopernaamplaatjie ter ere van sy lewe bo die kruis vasgeslaan.
Baie moeilik
Chris se dood was vir sy vriende en familie baie moeilik, sê Helen. Rudi de Klerk, een van sy vriende wat nie by was toe hy dood is nie, het byna daagliks by die boom gaan sit.
Hy was jonger as Chris, maar het ook dikwels saam met hom gaan skaatsplank ry.
In Mei 2020 is Rudi (16) ook oorlede. Sy ouers wil nie uitbrei oor die oorsaak nie.
Sy ouers het die Coetzees genader en omdat die boom vir Rudi so spesiaal was, ook sy kruis daar opgerig. Hulle het ook ’n naamplaatjie vir hom teen die boom aangebring.
Die pyn vir albei gesinne het nooit minder geword nie.
Helen moet nog dikwels verby die boom ry. Sy het juis in Oktober vir ’n paar dae nie daar verby gery nie toe een van Chris se vriende haar bel en sê die kruise is verwoes.
“Dis shocking dat iemand die dood so disrespekteer,” sê sy.
“Enige persoon wat dood is. En dit is nie die eerste keer nie,” sê sy.
“Maar hierdie keer is dit algehele destruction.”
Rudi se ma kan nie ophou huil as sy daaroor praat nie.
“Ek kan nie daaroor kom nie. Dit is sinneloos. Ek kan nie glo dat mense so wreed kan wees nie.”
’n Vriendin het haar gebel om te vertel wat met die kruis gebeur het. Sy bly deesdae in Klipheuwel.
Soos die Coetzees, vier die De Klerk-gesin nog Rudi se verjaarsdag by die boom. Hulle sit blomme vir albei seuns daar en versier dit met Kersfees.
“Ons praat dan oor die kattekwaad wat Rudi aangevang het. Ons sê net ons verlang en sulke goed.”
Ook die versierings is nou weg.
Sonskynkind
Mense sê vir Helen sy moet oor dit kom, maar diegene wat nie deur dieselfde is nie sal nie verstaan nie.
“Jou kind is jou toekoms. Hy is nie soos jou ouers wat deel van jou verlede is nie,” verduidelik sy. Elke mylpaal wat my ander kinders bereik, is nou bittersweet.
“Chris was ’n sonskynkind; hy het met almal gepraat. Hy het nie neergekyk op enige mense nie. (Toe hy dood is) het straatmense my kom opsoek om te se hoe jammer hulle is want hy’t altyd watter geldjie ookal vir hulle gegee.”
Hy’t elke dag vir haar ’n blommetjie gegee.
“Dis moeilik as jy ’n kind gehad het wat so lewendig was.”
Maar hulle haal asem, sê sy. “Ons gaan aan.”
Dit is die alledaagse goed wat veral nog moeilik is. Chris was die tweede van vier kinders en dikwels wanneer sy tafel dek besef sy eers te laat sy’t ’n bord vir Chris ook uitgehaal.
“Jy besef jy’t nie soveel kinders nie.”
Nog kruise?
Hulle sal seker weer ’n kruis opsit, sê Helen, hoewel hulle duur is, veral omdat mense hulle vandaliseer of afruk.
“Jy moet respek hê vir die lewe en die dood,” sê sy hartseer.
“Daai kinders wat saam met hom was, gaan nooit weer dieselfde wees nie.”
Aletta sê hulle is klaar besig om ’n nuwe kruis te maak.
“Ek sal dit aanmekaar opsit, al breek hulle af.”
Hierdie keer gaan hulle dit nog stewiger vassit, sê sy.
Voorheen was die meeste skade dat iemand Rudi se foto en raam vroeër vanjaar gesteel het. Dit was die eerste skade wat hulle ervaar het
Sy ry verby baie kruise langs die pad en dis vir haar so mooi.
“Ek kan nie verstaan dat iemand dit sal afbreek nie.”





