Met lente op ons voorstoep het sowat 20 stappers Saterdag ‘n blommestap in die Bracken-natuurreservaat onder leiding van André Vermeulen, voorsitter van die Vriende van Bracken-natuurreservaat en omgewingsonderwyser by die Sentrum vir Bewaringsopvoeding, meegemaak.
Op ‘n volmaakte sonskyndag is dié Kaapse fynbos-koninkryk in die hartjie van Brackenfell ‘n lafenis vir die moeë stadsjapie. Stappers kon hulle in die kleurvolle veld verlustig terwyl Vermeulen unieke blomme uitgewys en meer vertel het oor die bestuiwingsmetodes van plante.
Dié reservaat bevat kritiek bedreigde plantsoorte soos Kaapse Vlakte-sandfynbos en Swartland-granietrenosterveld. Die wit-, soet- en Namakwa-gousblomme is volop in dié gewilde reservaat.
“Die veld word al laat winter kleurvol gemaak deur verskeie spesies gousblomme. Hierdie eenjariges maak hul verskyning wanneer die reënseisoen begin en kort daarna kan ‘n kleurvolle “mat” gesien word,” vertel hy.
“Die blomme lok heelwat insekte soos heuningbye, kewers en skoenlappers, wat van blom tot blom vlieg om by die energieryke nektar uit te kom. Die insek maak onopsetlik kontak met die stuifmeel, wat “gratis” saam met die insekte vlieg om ‘n ander blom te bestuif. Dit stel die plant in staat om saad te produseer. Gedurende die warm en droë seisoen kom die kort lewe van al hierdie onkruid tot ‘n einde.”
Unieke plantegroei
Hy het ook ‘n unieke verskynsel aan stappers uitgewys. Die Kaapse voëlent is ‘n parasitiese plant wat op ander plante soos searsia en erica groei.
“Hierdie plant kan nie soos ander sy eie kos deur fotosintese skep nie, maar neem dit van die gasheer waarop dit groei. Dus het dit geen blare nie. Die piepklein groen blomme is onopvallend en skei ‘n geur af om sy bestuiwers te lok.”

Dan is daar die piepklien Ruiktrewwa. “ ’n Mens kan maklik verby hierdie klein orgidee stap sonder om dit raak te sien. Die plant maak nie staat op kleur om sy bestuiwers te lok nie, maar skei ‘n mengsel aromatiese verbindings af, wat ‘n geur tussen naeltjies en suurlemoen naboots. Die geur versterk in die aande om motte te lok, wat sonder opset as die plant se bestuiwer dien,” vertel hy.
Die Aas-uintjie is ‘n aantreklike blom totdat jy dit probeer ruik. “Dit skei ‘n onaangename reuk af, wat verottende vleis naboots. Vlieë gaan besoek daardie bloeisels met die doel om hul eiers te plant en vlieg van blom tot blom om uiteindelik uit te vind dis net ‘n blom, maar sodoende word die plant bestuif. Hierdie plant skei wel nektar af om die vlieg te beloon, wat gewoonlik nie van ‘n aasblom verwag word nie.
Die snotrosie is ‘n soort fynbos wat insekte vreet. “Hierdie karnivoorplant se blare is bedek met tentakels wat ‘n taai slymstof afskei. Daardie slymstof bevat ensieme, wat klein insekte wat vasgevang word, verteer. Sodoende kry die plant al die voedingstowwe van daardie ongelukkige slagoffer.”

‘n Unieke blom in die reservaat is egter die Kraaifontein-spinnekopbos, ‘n kritiek bedreigde spesie. Dit is ‘n laaggroeiende plant in die proteafamilie en kom in net twee gebiede voor.
“Die Bracken-natuurreservaat is een van daardie gebiede en dus speel dit ‘n uiters belangrike rol in die bewaring van hierdie spesie. Sonder ‘n natuurtuin soos Bracken gaan hierdie protea en al die ander plante en diere wat daar voorkom, nie ‘n tuiste hê waar hulle vrylik kan rondbeweeg en lewe nie.”
LEES OOK: Nuwe erfenis-volmaanname vir Suid-Afrika






You must be logged in to post a comment.