Die bekende sportskrywer, afrigter, skeidsregter en onderwyser Sarel Burger is die afgelope naweek oorlede.
Arthur Reichhardt van die NTK-rugbyklub in Parow-Noord sê sy heengaan is baie hartseer nuus.
“Hy was ‘n lewende legende, en het geleef vir sport. Hy het die uitslae van die skole-krieket, rugby en klubrugby getrou bygehou vir maklik 60, 70 jaar indien nie meer nie,” sê Reichhardt.
Reichhardt het Burger nog verlede week gesien.
Burger (88) is Saterdag oorlede.
“Hy was alombekend, soveel mense het hom geken en hom waardeer.”
Sarel Burger-sewestoernooi
Stokkies Truter, voormalige sportorganiseerder by die Hoërskool Brackenfell, het vir baie jare nou met Burger saamgewerk. Die Sarel Burger-sewestoernooi in die noordelike-voorstede word vandag deur hom namens Burger bedryf.
Truter sê Burger het die toernooi begin en dat vanjaar se geleentheid die 65ste toernooi is.
“Oom Sarel het so ‘n paar jaar terug na my toe gekom en gevra of ek sal aangaan met die toernooi. Hy het dit die Noordelike Voorstede-sewestoernooi genoem. Ek het gesê ek sal dit oorneem, maar op een voorwaarde — dat ons die toernooi die Sarel Burger-sewestoernooi noem, want hy verdien dit.
“Ek het dit oorgeneem en dit begin reël en dit is ‘n voorreg,” sê hy.
Hy sê ‘n soortgelyke toernooi is ‘n paar jaar gelede ook in die suidelike voorstede begin.
Vir die sewestoernooi word skole van dwarsoor die noordelike voorstede uitgenooi om daaraan deel te neem. “Almal skryf nie altyd in nie, maar ons is sowat 16 spanne elke jaar.” Die sportterrein waar dit plaasvind wissel ook jaarliks. Die volgende toernooi vind in Augustus plaas.
Truter is Sondagaand van Burger se tragiese heengaan in kennis gestel.
“Oom Sarel het so baie vir ons en skole-rugby gedoen.
“Soms het hy gesukkel met die tellings van die sporttoernooie en die uitslae, dan sou hy my kontak. Die laaste ruk het hy ook doof begin raak, dan moes ‘n mens harder praat,” vertel Truter.
Hy sê Burger was ook vir jare die krieket-organiseerder by die Hoërskool Tygerberg.
“Hy was legendaries, baie mense kan stories oor hom deel,” sê Truter, wat deesdae oorsese skooltoere na en van Kaapstad reël.
Dennis Burger, ‘n jare lange vriend van Burger, sê die skrywer se dood is tragies en dat hy gemis sal word.
Hy woon al 38 jaar in Welgelegen, en Burger vir nog langer in die naburige Plattekloof 1.
“Ons het naweke alles saam gedoen,” sê hy.
Volgens hom het die gesin die naweek met vakansie gegaan. Hy is Saterdag van sy vriend se dood ingelig.
Burger laat sy vrou, Anna, en twee kinders agter.
“Hy was ‘n baie nederige onderwyser, krieket-afrigter en skeidsregter. Hy was ‘n baie stil mens en almal het van hom gehou,” sê Burger.
Burger het ook gereeld skole-sportstories in TygerBurger gepubliseer.
Medelye
Cecilia Hume, redakteur, het haar medelye met die skrywer se gesin betuig.
“Toe ek in 2005 as ‘n groentjie by TygerBurger begin het, was Oom Sarel reeds ‘n gevestigde naam by die koerant. Oor presies hoe lank hy as korrespondent sportbydraes gelewer het, is ek onseker, maar ons kon oor die jare weekliks staatmaak op ‘n sportverslag waarin die afgelope week se skool- en klubrugby, asook krieketnuus, saamgevat is.
“Hy was ook alombekend onder ons lesers; jy kon verseker wees van ‘n paar oproepe in weke dat sy bydraes moes sneuwel omdat die sportnuus te veel en die ruimte te min was. Ons harte gaan uit na die Burger-familie in hierdie tyd,” sê Hume.
LEES OOK: NTK-rugbyklub vier 75-jaar van rugby, veerkragtigheid en gemeenskapsontwikkeling





