‘n Gedenkdiens vir die oorlede radioman, motiveringsspreker, boek- en liedjieskrywer Johnny Juan Davids word môre gehou.

Davids (49) se skielike heengaan die afgelope Donderdag (16 April) by ‘n gastehuis in Pretoria het vriende, familie en aanhangers landwyd geskok gelaat en sy dood laat ‘n leemte by talle wie hom geken en liefgehad het.

Davids, die skrywer van die outobiografie Boytjie, wat in 2024 deur Lux Verbi uitgereik is, was ook ‘n bekende sportkommentator en aanbieder van verskeie televisieprogramme op kykNET (DStv-kanaall 144) en VIA (DStv-kanaal 147).

Hulde gebring

“Johnny het gekies om sy lewe só te lei dat dit as ‘n voorbeeld vir jong mans sou dien. Hy het op sy warm, innemende manier gewys dat toewyding, integriteit en medemenslikheid ononderhandelbaar is en sodoende ‘n voorbeeld vir nie net die jeug geword nie, maar vir almal van ons,” sê Waldimar Pelser, die kykNet-kanaalhoof.

Pelser sê Davids, ‘n inwoner van Bothasig, was geliefd onder kykNET-kykers. Hy het sy buiging op die kanaal in 2003 gemaak met die wen van die Zing-talentkompetisie saam met sy sangmaat, Vivian Molauly. “Daarna het hy ‘n bekende gesig geword as aanbieder op onder meer Kwêla en Ysters op die Landgoed. Sy dood op veral so ‘n jong ouderdom is ‘n groot skok en ‘n geweldige verlies,” sê Pelser.

Huldeblyke van oral in Suid-Afrika en Namibië stroom sedert sy dood in.

Lux Verbi, die uitgewer van Davids se boek, het ook hul medelye betuig. “Ons neem met groot hartseer afskeid van Johnny. Hy was ‘n talentvolle radio- en sportaanbieder, musikant en skrywer. Hy het met sy unieke persoonlikheid, warmte en talent diep spore in baie mense se hart getrap. Ons innige simpatie aan sy familie, vriende en almal wat hom geken en liefgehad het.”

Talle bekendes, onder wie Pietman Geldenhuys, die aanbieder van OppieStoep; Ivor Swartz, ‘n motiverinsspreker en goeie vriend; Tracey Lange, ‘n radioaanbieder; en die bekende sanger Jak de Priester het hulde gebring aan Davids.

Diens

‘n Gedenkdiens word vir Woensdag 22 April by die AFM-Goodwood Friend of God-kerk op die hoeke van Frans Conradie-rylaan en Vasco Boulevard, Goodwood, om 19:00 beplan. Sy begrafnis vind Saterdag 25 April om 09:00 by dieselfde kerk plaas. Davids sal by die Durbanville-gedenkpark ter ruste gelê word.

Hy laat sy vrou, Liezel Swarts Davids, en twee seuns agter.

LEES OOK: Televisie- en radioman Johnny Davids (49) sterf skielik

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article