Toe ‘n matriekmeisie se tante twee dae voor die matriekafskeid met ‘n pleidooi om hulp by Kraailove se Facebook-blad aanklop, was die antwoord dadelik ja.
Kaylee Uithaler het op dié tydstip nog net ‘n rok gehad, en finale reëlings was nog nie getref nie. “Ons het dadelik ingegryp,” sê Monzelle Manual, ‘n Kraailove-lid.
Sy, haar ma, Lourraine Carelse, en suster Cash-Lee Daniels het die finale reëlings getref en ook gehelp met skoene en juwele om dit vir Kaylee onvergeetlik te maak.

Swart en wit ballonne is by haar huis opgehang en tafels vol lekker eetgoed gereed gemaak, waar familie en vriende saam kon vier. Pragtig in haar swart en silwer uitrusting is sy met ‘n vurige rooi motor by die Hoërskool Aquila se matriekbal in Paarl afgelaai.
“Dit was vir ons ‘n plesier om iemand se drome bewaarheid te sien. Die plesier en waardering wat aan ons getoon is, was vir ons hartroerend,” sê Monzelle.
“Vir ons is ‘n matriekafskeid ‘n groot geleentheid, veral omdat baie kinders nie eens gr. 12 haal nie. Daarom het ons nie twee keer gedink om te help nie. Ons het nie geweet waar die geld vandaan sou kom of hoe ons dit sou regkry nie, maar wat ons wel geweet het, is dat God sal voorsien,” sê Kraailove stigter Kwayo Louw.
ALSO READ: Kraailove kroon hoop: Jeug skitter op Jeugdag in Scottsdene




