Die kwiltgilde Kaapse Kwiltgenot van Durbanville het onlangs sy 40ste bestaansjaar gevier met ‘n kleurvolle oggendtee — omring met die uitsonderlike kwilts wat lede gemaak het.

Ina Meyer van Glentana was die gasspreker by die geleentheid op Saterdag 25 Julie. Sy was ‘n stigterslid van die Kaapse Kwiltgenot en het staaltjies vertel van die beginjare van die gilde.
Stories agter kwilts
Sy het ‘n paar van haar eie kwilts saamgebring en die stories daaragter met gaste gedeel.
Meyer het in 1977 kwiltwerk begin doen, en het sedert 1987 begin klasgee in laslap- en kwiltwerk.
In 1996 het sy as beoordelaar gekwalifiseer en het al verskeie kwiltkompetisies in Suid-Afrika, Zimbabwe en Dubai, asook Namibiё se eerste kwiltkompetisie, beoordeel. Sy het die sonderlinge status van meesterkwilter.
Meyer het in 2022 ‘n Pro Dedicate-toekenning van die Suid-Afrikaanse Kwiltgilde ontvang. Van haar werk is al plaaslik, asook internasionaal, uitgestal.
Sy was al die voorsitter van die Goeie Hoop Kwiltgilde in die Kaap, die Jakaranda Kwiltgilde in Pretoria, en is tans die voorsitter van die Outeniekwa Kwiltgilde op George.
Kinkels, kreukels en kwinkslae
Linda Coetzee, wat die inisiatief geneem het om die gilde te stig, was ook ‘n eregas.
“Die kinkels, kreukels en kwinkslae van die Kaapse Kwiltgenot leef voort in baie harte en huise en die kwilts maak harte bly,” het Coetzee gesê.

Volgens haar hoef Suid-Afrikaanse kwilters vir niemand terug te staan nie.
Die gilde het selfs ‘n brief van gelukwensing uit Montana in die VSA ontvang van nog ‘n stigterslid, Helena Myburgh. Sy het vertel van die projek wat die gilde jare gelede aangepak het, naamlik om deurnag kwiltwerk op aflostye te doen. ‘n Paar van die voltooide dekens is daarna aan die Durbanville-kinderhuis geskenk.
Little Quilts of Love
Die Kaapse Kwiltgenot hou ook elke jaar ‘n stikdag, waartydens Little Quilts of Love gemaak word. Dit is klein kwiltjies wat geskenk word as ‘n blyk van troos aan ouers wat hul pasgebore babas verloor het.
‘n Paar lede was die gelukkige wenners van gelukstrekkings van onder meer geskenkbewyse, geskenk deur Textile City en Fabric Friends in Bellville, asook handige geskenkpakke vir kwilters, geskenk deur Bernina Noordelike Voorstede.

Die oggend is afgesluit met lede wat gespog het met hoe die kwilts vorder waaraan hulle tans werk. Die voltooide Little Quilts of Love is ook vertoon.
Die gilde vergader een keer per maand op ‘n Saterdagoggend by die Durbanville Metodistekerk.
. Kontak Lilibet Nienaber by 083 253 7031 met navrae.
LEES OOK: Kwiltgilde skenk kombersies






You must be logged in to post a comment.