Die jongste plekspesifieke drama van die Hertzog-pryswenner Nicola Hanekom is Donderdag 14 Mei met vier Kannas bekroon.
Uitnemendheid by die KKNK, wat van 28 Maart tot 4 April op Oudtshoorn aangebied is, word jaarliks met Kannas beloon.
Hanekom, van Bloubergstrand, se Die gebed van ’n halfmens wat by die KKNK gedebuteer het, is met pryse bekroon vir beste debuutwerk: toneel, beste aanbieding: toneel, beste ontwerp en/of tegniese bydrae vir Hanekom en Elana-Marié Snyman se tegniese versorging en Brendon Daniels as beste manlike speler in ‘n ondersteunende rol.
Beste vroulike hoofspeler in ‘n hoofrol
Atropa: Die wraak van vrede, ‘n drama deur Tom Lanoye wat in Afrikaans by die KKNK gedebuteer het, is met twee Kannas bekroon. Lanoye, van Kaapstad, het ‘n Kanna vir uitnemende literêre bydrae vir sy vertaling van die teks ontvang, en Anna-Mart van der Merwe, van die Breërviervallei, ‘n Kanna vir beste vroulike speler in ‘n hoofrol.

Andrew Buckland is bekroon as beste manlike speler in ’n hoofrol vir sy spel in The Fool’s Guide. Daneel van der Walt is bekroon as beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol vir haar spel in ge-gebergtes. Marthinus Basson ontvang die Kanna vir beste regie vir Boklied. Garage Dance Ensemble se plekspesifieke dansteater-produksie GAT is bekroon as beste ensemble.
Beste debuutwerk
Amanda Strydom en Je-Ani Swiegelaar se Tillie/Mathilda is bekroon as beste debuutwerk: musiek, terwyl Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective die Kanna vir beste aanbieding: kontemporêre musiek ontvang het. Danie Marais se Ek is nie Danie ontvang die Kanna vir beste aanbieding: Musiekteater.

Beste van alle tye met Ané Koegelenberg en Christie van Niekerk is bekroon as beste aanbieding: komedie. Badtyd met Eldon van der Merwe het die Kanna vir beste aanbieding: Blitsteater – ’n aanbod van kort teaterstukke van 20 minute elk – ontvang.
PLEK / PLACE: ’n Geografiese of emosionele ruimte deur kurator Liza Grobler, is bekroon as beste aanbieding: visuele kuns.
Kinderpaneel
Zip Zap Circus se MOYA is deur die kinderpaneel aangewys as beste aanbieding: kindervermaak en Heinrich Wentzel is bekroon as beste opkomende kunstenaar of nuweling vir sy spel in Akrasia.
Hans van der Veen ontvang die spesiale Kanna vir diens aan die KKNK, met die spesiale Kannapaneel-prys wat aan die tegniese personeel vir hul uitsonderlike oorkoepelende versorging en gehalte tegniese diens by die 30ste KKNK toegeken is. Ingrid Blumer ontvang die Kanna vir uitsonderlike tegniese diens aan die KKNK.

Elke wenner het ’n spesiale kunswerk deur Chris Buchner van Calitzdorp ontvang.
Vanjaar se glansgeleentheid is by Leopard’s Leap in Franschhoek aangebied. Nina Swart was die aanbieder, met vermaak deur die Papier Family Band.
Borge
Die 30ste KKNK is geborg deur Absa, met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.
Kanna-pryse is geborg deur Absa, die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, ATKV, Wes-Kaapse regering, Castle Lager, Dotsure, Glenwood Travel, Rauten Trust, Ton & Anet Vosloo, Crispin & Lisa Sonn, Franklin & Joan Sonn, asook Wicus Pretorius.
Die onafhanklike Kannapaneel vir KKNK 2026 was Naudé van der Merwe (sameroeper), Nolan Africa, Amelda Brand, Felicia Lesch, Wayne Muller, Ilza Roggeband, Tracey Saunders en Fahiem Stellenboom. Op die kinderpaneel was 25 kinders tussen die ouderdomme van 6 en 13 jaar vanuit die breë Oudtshoorn-gemeenskap. Die Kannapaneel is ondersteun deur Haddad Viljoen, Marguerite Robinson en Diane de Beer, wat die Kanna vir beste bydrae tot visuele kuns beoordeel het. Die proses van nominasies en wenners is oorsien deur die ouditeursfirma Acker & Malony.
Volgende jaar vind die KKNK op Oudtshoorn plaas van Dinsdag 23 tot Saterdag 27 Maart. Programaansoeke vir dié fees kan vanjaar vanaf 1 Junie aanlyn ingedien word by kknk.co.za.
Besoek kknk.co.za of kontak die KKNK by 044 203 8600 of info@kknk.co.za of 065 285 2337 (Whatsapp) vir meer inligting.
LEES OOK: Jonge Judi roer harte by KKNK






You must be logged in to post a comment.