‘Hondevrou’ van Kuilsrivier fokus op sterilisasie om diere lyding te spaar

Kalkfontein-hond wat gesteriliseer is.
‘n Hond van Kalkfontein wat onlangs gesteriliseer is.

‘Hondevrou’ van Kuilsrivier fokus op sterilisasie om diere lyding te spaar


Die afgelope Sondag (4 Oktober) was dit Wêrelddieredag. TygerBurger het met die “hondevrou met die wit bakkie” van Kuils­rivier gesels wat ‘n organi­sasie sonder winsoogmerk bedryf en help om soveel honde en katte moontlik in onder meer Kalkfontein, Riverside Gardens en Sarepta gesteriliseer te kry. Sy het versoek dat haar naam nie genoem word nie.

Sy het grootgeword met ‘n passie vir diere en haar 84-jarige ma red nog steeds diere, vertel sy.

Sterilisasie die kern

Haar organisasie fokus op sterilisasie, want daar is ‘n “massiewe krisis” met oorbevolking van honde en katte wat nie voldoende versorg (kan) word nie. Sterilisasie verhoed lyding en is boonop voordelig vir die dier self, vertel sy.

Sy werk ook in Bloekombos, Wallacedene en Scottsdene in die Kraaifontein-omgewing. “Dit is eintlik stupid om sulke groot gebiede te doen, maar ek kan nie net wegstap nie.”

Babahondtjies Foto: AWS
Babahondtjies Foto: AWS

Kalkfontein en Bloekombos het baie meer honde wat opgeteken word vir sterilisasie, maar die katte teel vinniger aan, sê sy. Sy het al by ‘n huis gekom met ‘n dragtige kat en gehoor dit is al die vyfde werpsel.

“Ons doen ook aborsies, waarvan mense nie hou nie, maar dit is beter om dit te doen as wat die kleintjies gebore word.”

Daar is eenvoudig nie genoeg huise vir al die diere nie. Diere word ook gereeld agtergelaat, soms omdat mense verhuis of die finansiële las te groot is.

“Baie van die diere wat ons sien, kry nooit mediese behandeling nie. Veral in Bloekombos, en soms ook in Kalkfontein, sien ek diere wat omgery is en waar die gebreekte bene skeef aangegroei het.”

Samewerking

Sy het goeie verhoudings met ander organisasies opgebou en werk nou met onder meer die Dierebeskermingsvereniging (DBV) en die Animal Welfare Society (AWS) saam. Danksy borgskappe kon AWS verlede Dinsdag nog 45 diere van Kalkfontein steriliseer.

Haar betrokkenheid in Kalkfontein het verlede jaar Februarie begin toe sy eers as vrywilliger ‘n ander organisasie bygestaan het wat sterilisasies daar gedoen het voordat sy in Junie self uitgereik het.

TEARS het tussen Junie en Desember 2025 ‘n klomp diere se sterilisasie geborg, maar sy moes hulle douvoordag gaan oplaai en al die pad Kommetjie toe aanry, wat moeilik was. 

Sy hoop daar kan meer mense wees soos die oorsese vrou wat 500 sterilisasies vir drie organisasies geborg het sodat daar veel meer massa-sterilisasies gedoen kan word, want die behoefte is enorm.

LEES OOK: Huisdiere: dink mooi voor jy koop of aanneem

Uitdagings

“Ek is nog nie deur Hesterstraat in Kalkfontein nie, maar tot waar ek al gekom het kon ek nie een gesteriliseerde hond of kat vind nie. In Sikelelastraat was daar een gesteriliseerde hond, maar op dieselfde erf was ‘n dragtige kat.”

Haar waarneming is dat die meeste mense wel graag hul diere wil laat steriliseer, maar dat toegang daartoe of geld tekortskiet.

Onkunde is nog ‘n uitdaging. ‘n Hond met erge brandwonde is vyf dae sonder behandeling gelaat. “Dit is die goed wat vir my baie sleg is. Hoe kan jy na ‘n dier kyk? Jy het ‘n motor, maar jy vat hom nie vir behandeling nie.”

Dit is ook vir haar sleg as mense nie vir hulp vra nie.

Verantwoordelikheid gevra

Skuilings sal oorvol bly en kos of hondehokke kan uitgedeel word, maar as sterilisasie nie getakel word nie, is dit soos’n bodemlose put.

“Diegene wat vir hul diere se sterilisasie kan betaal, moet, al is dit ‘n verminderde fooi.” Sy verduidelik skenkers se geld moet verantwoordelik bestuur word en dus bied diereorganisasies gratis sterilasies slegs aan diegene wat dit nie kan bekostig nie.

Sedert Junie verlede jaar tot en met September vanjaar het haar organisasie gehelp om 1 624 diere (honde en katte) van Kalkfontein, Sarepta en Riverside Gardens gesteriliseer te kry. Sy ry maandeliks meer as R5 000 se brandstof uit vir die diere.

Van die massa-sterilisasies gebeur in gemeenskaps- of kerksale. Soms word die diere na die DBV in Grassy Park of die AWS in Philippi aangery.

Mense kan sterilisasies borg deur ‘n skenking aan organisasies soos die DBV en AWS te maak.

Sy pleit vir verantwoordelike gedrag. Optrede soos dié van ‘n dokter wat ‘n werpsel ongesteriliseerde hondjies vir ‘n vrou in Kalkfontein gegee het, maak haar kwaad.

“Eerstens moes sy hond gesteriliseer gewees het en tweedens gee jy nie ongesteriliseerde diere aan iemand wat nie toegang het om dit te laat doen nie.”

LEES OOK:  Dunoon ‘puppy seller’ sentenced for animal cruelty and illegal sales

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article