Vir diegene wat in Bellville grootgeword of daar gewoon het en soms net met bietjie heimwee oor die ou dae wil gesels, is daar eintlik net een plek om te gaan – en dis nie ’n kroeg nie.
Dis ’n Facebook-blad.
Die Bellville Memorabilia-blad raak maandeliks meer gewild namate honderde oud- en nuwe inwoners brokkies nostalgie met mekaar deel. En vir die huidige administrateurs en baie lede is dit al ’n onlosmaaklike deel van hul lewe.
Die groep is in 2010 begin, maar het aanvanklik stadig opgang gemaak.
Die stigter, André Heyns, het dit in 2012 nog oorweeg om die groep weens min belangstelling toe te maak, maar het daarteen besluit toe meer as 100 nuwe lede binne ’n week aangesluit het. Die blad het destyds met 303 lede gepronk.
Vandag is dit meer as 5 600.
Heyns, wat in 2016 aan kanker oorlede is, het die blad op die Cape Town Down Memory Lane-blad geskoei. Hy het die staaltjies en betrokkenheid so geniet dat hy gevoel het die noordelike voorstede het ook so ’n groep nodig.
Namate die groep gegroei het, het hy in 2012 vir Dennis Jones (72), “ook ’n Bellville-boykie”, aangestel om hom te help.
Jones, wat Engels is, sê wat vir hom altyd sal uitstaan, is hoe ’n “mengelmoes” mense langs mekaar gewoon het – veral die Afrikaans- en Engels-sprekende mense.
Hy spot steeds dat hy Afrikaans leer praat het omdat hy “in die taal wou vry”.
Hy is ’n onuitputbare bron van kennis oor Bellville. Ander sê hy kan amper elke huis noem en sê wat voorheen daar was.
Hy is ook al deur paartjies genader om die geskiedenis van hul huise in Bellville bloot te lê.
Hy is veral trots op die feit dat die groep die afgelope jaar ’n 80%-inskakelingskoers (engagement) gehad het en dat mense so aktief deelneem.
Heelwat van die groep se lede woon tans oorsee.
Die gewildste plasings en gesprekke is gewoonlik oor die swembad, die ruimte op die hoek van Voortrekker- en Durbanweg en hoe lede sakgeld verdien het.
Hy en die ander administrateurs het streng reëls as dit by aansluiting by die groep kom. Voornemende lede moet ’n duidelike profielfoto hê en moet vrae kan beantwoord oor hoekom hulle by die groep wil aansluit. Geen politiek word toegelaat nie en adverteerders word dadelik verban.
Jones het die groep vir ’n paar jaar alleen bestuur, maar Saretta Louw later genader om te help. Sy is ook intussen oorlede.
“Ek moes aan my opvolging-plan dink,” sê hy pragmaties.
Jones het toe in 2021 mini-CV’s aangevra en die lede Leonie Avenant (70) en Hugo Lombard (76) aangestel om hom te help.
Dié twee het verskillende sterkpunte en elkeen is, soos Jones, lank in Bellville aktief.
Avenant, ’n skrywer en onderwyser wat al vir jare by verskeie skole in die noordelike voorstede en oorsee gewerk het, sê haar aanstelling is ’n groter eer as haar vier grade.
“Dit is my hartsbegeerte om Bellville met ander te deel,” sê sy. Sy is al byna 10 jaar ’n aktiewe lid van die groep. Daar is generasies van Bellvilliete in haar familie.
Talle geslagte “Bellvilliete” is in haar familie.
Haar oupa- en oumagrootjie het in Teddingtonstraat gewoon en haar ouers, sy en haar kinders het almal daar grootgeword.
“My ma-hulle en my ouma-hulle het vir ’n ruk in Bellville-Suid gewoon, maar die hele gebied is ontruim.” Ander nabye inwoners moes toe, ook weens die groepsgebiedewet, na Bellville-Suid trek. Baie mense wat oorspronklik in Bellville-Suid gewoon het, het toe in Oakdale gaan woon.
Sy het baie oor mense se liefde vir Bellville geleer, maar ook oor die verskillende buurte se geskiedenis.
“As ’n mens so deel is van die geskiedenis, kom jy agter hoe dinge verander van die gewone landelike na ’n stedelike geskiedenis. Byvoorbeeld, Oakdale was in groot dele onbewoon, met baie plotte oop oral in die buurt. Ons het van Oakdale al die pad na Welgemoed-koppie gedraf en gesien hoe Settlers, Mike Pienaar Boulevard en die groot dubbelpad gebou word; ook die hoë woonstelle, en so aan.”
Lombard is weer ’n bekende in sportkringe, en baie onthou hom as sportkommentator en vryskut-fietsryjoernalis. Hy was onder meer vir 27 jaar die kommentator by die Paarl Boxing Day-sportdag.
Hy het al ou kennisse en skoolmaats van 60 jaar gelede weer deur die groep ontdek.
“Bellville sal my altyd na aan die hart lê. Ek dink met heimwee terug aan dit wat was en dit wat nou is, en besef hoe bevoorreg ek was om as kind daar te kon grootword – sorgvry.”
Hy voel die groep is belangrik juis omdat dit so ’n groot bron van geskiedenis is. “(Dit is) die hoeksteen van ons verlede en dit help die jonger geslag om insae in die ontwikkeling en groei van Bellville te beleef.”





