Gestremde se foon deur slinkse samaritane buite binnelandse sake in Bellville gesteel

Elrich Koster se rolstoel by die nie-rolstoelvriendelike sypaadjie by die departement binnelandse sake.FOTO: Annatjie Koster


’n Vrou wat skaars twee maande gelede haar man aan die dood afgestaan het, moes toekyk hoe mans haar gestremde seun se selfoon by binnelandse sake in Bellville steel.

Die vrou, Annatjie Koster van Brackenfell, wil ander nou waarsku om op hul veiligheid ingestel te wees, veral as hulle gestremdes help of self gestremd is.

Die voorval het voorverlede week gebeur toe Annatjie haar seun, Elrich (31), na die tak toe gevat het om hul identiteitsdokumente te kry.

Sy het in die parkering vir gestremdes reg voor die ingang van die gebou gestop. Die eerste probleem het daar reeds opgeduik, omdat die gebou nie ’n oprit vir rolstoele het nie en ’n mens juis daar moet parkeer as jy een gebruik. Dié parkeerplek is egter permanent beset.

Elrich het ’n spino-serrebulêre degeneratiewe siekte wat balansprobleme veroorsaak en hom ’n permanente rolstoelgebruiker maak.

Elrich maak soms gebruik van ’n battery-aangedrewe rolstoel wat in drie dele opvou en Annatjie was besig om dit ná hul besoek in die kattebak te sit.

Sy is egter dadelik deur drie mans omsingel wat hul hulp aangebied het. Een man het nie eens gevra nie en dadelik begin “help”.

Elrich het al op die passasiersitplek met sy foon gesit.

Dit was skaars ’n paar sekondes nadat die mans hul hulp aangebied het, dat een die foon by Elrich gegryp het en die drie weggehardloop het.

Een van mense wat in die ry by binnelandse sake staan en wag het, ’n man met die van Tantasile, het hul egter self agterna gesit en ’n paar minute later met die foon teruggekom. Sy is baie dankbaar teenoor sy goedheid.

Trauma

“Ek het gelukkig goed daarvan afgekom,” sê Annatjie.

“Ek het my kind se foon teruggekry. As ’n vrou alleen was, kon dit baie erger gewees het.”

Annatjie se man, Peet, is twee maande gelede oorlede en sy sê die hele gebeurtenis het Elrich baie getraumatiseer. Hy wil nou nêrens heen gaan nie.

Sy is later terug – dié keer saam met ’n polisielid, sodat sy met die takbestuurder, Quincy Shenxane, oor die saak kon praat.

Shenxane het volgens haar egter gesê hy kan niks doen nie omdat hulle net die gebou en nie die sypaadjie besit nie.

Sy is glo aangeraai om die veiligheidswagte uit die gebou te vra om saam tot by die voertuig te stap.

David Hlabane, nasionale woordvoerder van binnelandse sake, het TygerBurger se navraag oor die voorval bevestig, maar nie teen druktyd reageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article