ltesame 67 vrolike hondehokke – een vir elke jaar wat Nelson Mandela vir vryheid baklei het – is op pad na dierewelsynorganisasies van oor die provinsie heen danksy die Dog Box-projek wat Saterdag by CapeGate-winkelsentrum plaasgevind het.
Daar het 67 spanne vrywilligers die 67 hokke wat geskenk is met helder kleure versier om die nalatenskap van Nelson Mandela te vier.
“Die projek is in 2012 van stapel gestuur en het oor die jare so gewild geraak dat dit nou ’n instelling is,” sê die stigter, Adéle Lombaard.
“Elke hok, met ’n kombers en sak hondekos, sal aan ’n diereskuiling geskenk word.
Adéle sê die nood is groot by diereskuilings wat meestal minderbevoorregte gemeenskappe bedien.
“Daar is altyd ’n tekort aan kos, komberse en hondehokke – al drie items wat baie duur is, en omdat geld beperk is, kan die skuilings nie altyd die items aankoop nie.
“Met die projek word die lewensgehalte van soveel honde verbeter – om warm te slaap in die winter en ook ’n koelteplek te hê in die somer,” sê sy.
In Kaapstad sal drie diere-organisasies bevoordeel word – Pawprint Village en Grace Animal Sanctuary in Joostebergvlakte, en Fallen Angels in Melkbosstrand.
Calvinia
’n Vrywilliger, Charmaine Lombard van Durbanville, het gehelp om hokke te verf vir Hantam Pet Paws in Calvinia.
“Die organisasie het min of geen ondersteuning in Calvinia nie en is afhanklik van donasies uit Kaapstad,” sê sy.
Vir Charmaine is haar liefde vir honde ’n hartsaak.
“Honde aanvaar jou nes jy is en vra nie vir baie nie. Tog het die honde wat verwaarloos of mishandel word, nie ’n stem nie. Ons is hulle stem.”
Mariechen du Toit, stigter van Hantam Pet Paws, sê die krisis is groter as wat die publiek besef. Daar is tans 40 honde in die kontrei in haar sorg.
“Daar is derduisende honde wat nie huise het nie, verwaarloos of mishandel is. Daar is so baie mense wat emigreer en hul honde net so los. Ook kry ook baie honde van bejaardes wat na ouetehuise verhuis waar diere nie welkom is nie. In die meeste gevalle neem die families nie die honde in nie. Dan is daar ook die verwaarloosde diere in veral plakkerskampe waar die eienaars nie geld het om na hul diere om te sien nie,” sê sy.
Du Toit se werk in dierewelsyn het agt jaar gelede begin toe sy op ’n verlore klein hondjie in die parkeerterrein van CapeGate-winkelsentrum afgekom het.





