Emmie Bijzet tydens haar 100ste Parkrun in Bellville.


’n Oumagrootjie van Brackenfell het Saterdag die sofapokkels by die huis ore aangesit nadat sy – kierie en al – haar 100ste Parkrun voltooi het.

Emmie Bijzet (83) van Morgenster Hoogte het Saterdag uiteindelik hierdie mylpaal in Bellville bereik, nadat die roete vir die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie weer geopen is.

“Ek is baie bly en dankbaar,” sê sy. Tientalle ondersteuners het haar juigend by die eindstreep welkom geheet en heelwat het die hele pad saam met haar gestap.

“Die mense by die Parkrun in Bellville is wonderlik. Hulle’t vir my geskenke gegee. Dit was geweldig . . . Ek was amper in trane. En al die mense het gejuig.”

Sy het vooraf gesê sy sou koek bring en het een by die Spar in Brackenfell bestel, maar toe sy dit gaan haal het die eienaar aangedring om self daarvoor te betaal, wat nog ’n vriendelike gebaar is wat haar dag opgekikker het.

Wat haar prestasie nog meer uitsonderlik maak, is die feit dat sy tussen die jare tagtig en negentig aan ’n ernstige spiersiekte, veelvuldige sklerose, gely het. Dit is nou in remissie. Sy het ook die afgelope dekade talle operasies ondergaan – onder meer ’n heup- en skoueroperasie. “Maar die Vader het met alles gehelp.”

Sy het stadig begin stap nadat haar veelvuldige sklerose in remissie was. Eers net klein afstande – 200 m of 300 m op ’n keer – en later al verder.

Sy het sowat agt jaar gelede aan die Bellville Parkrun begin deelneem toe haar dogter, Magriet, haar daarvan vertel het.

Deesdae stap sy ook omtrent drie keer per week om 06:00 tussen drie en vier kilometer en sê die oefening is “baie goeie ontspanning en inspanning. Dit is iets wat my goed laat voel vir die dag; iets wat ek kan doen.”

Haar bloeddruk is ook laer wanneer sy stap, sê sy. “Dis goed vir jou gesondheid.”

Bijzet, wat oorspronklik van Groningen in Nederland is, het in 1966 saam met haar man, Klaas (nou 92), na Suid-Afrika gekom.

Haar heel eerste lewensjare was tydens die Tweede Wêreldoorlog en sy onthou nou nog die bomontploffings.

Sy was redelik aktief as kind en het aan gimnastiek, straatsokker en handbal deelgeneem.

Die paartjie het ses kinders gehad, van wie een oorlede is. Emmie en Klaas woon by hul oudste dogter, Magriet de Mooij. Hul ander kinders is Anneke de Zinger (wat in Nederland woon), Trix Solomons (in Pretoria), Ferdinand (in Nelspruit) en Emmie Hofsink (in Australië). Die jongste dogter, Lettie van Wijk, is in 2006 oorlede.

Hulle het ook 14 kleinkinders en agt agterkleinkinders.

Bijzet vertel almal sê vir haar sy moet nou vir 150 Parkruns mik, maar sy weet nog nie mooi oor dié syfer nie.

Sy sê ook sy kon dit nie sonder die Here gedoen het nie. Gevra of sy iets wou byvoeg, het sy gesê: “Ek wil net dankie sê aan my Hemelse Vader wat my elke dag krag gee.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article